‘Sagmoedige man’ al maande lank soek

Jason Dale Mears (48) word sedert 29 Mei 2021 vermis. (Foto: Verskaf / Tippin Mears Crisp)

Die familie van ’n 48-jarige man wat op 29 Mei vanjaar spoorloos in Mowbray, Wes-Kaap, verdwyn het, hoop steeds dat hy lewend gevind sal word.

Jason Dale Mears het sy huis glo omstreeks 18:00 te voet verlaat sonder om sy selfoon, asmapompie en beursie saam te vat.

Volgens sy suster, Harriet Mears, wat in Gqeberha (Port Elizabeth) woon, was Jason se gesondheid ten tyde van sy verdwyning nie goed nie.

“Soos ek verstaan het hy vreemd opgetree kort voordat hy verdwyn het. Ek dink egter glad nie dat hy homself om die lewe sou bring nie,” sê Harriet.

’n Baard is op dié foto aangebring om te wys hoe Mears moontlik ná twee maande op straat sal lyk. (Foto: Verskaf / Tippin Mears Crisp)

“Ons het absoluut geen leidrade oor wat moontlik kon gebeur het nie. Die feit dat hy niks saam met hom gevat het nie dui daarop dat hy moontlik net vir ʼn kort entjie wou gaan stap. Hy was baie lief vir stap en om in die natuur te wees.

“Dit is een groot raaisel wat ons almal mal maak. Die polisie het ook nie in dié stadium leidrade of antwoorde nie,” sê sy.

Mears se niggie, Tippin Crisp, sê hy het glo vir sy huismaat, wat nie sy naam genoem wil hê nie, op die dag van sy verdwying gevra of hy hom ’n drukkie kan gee – iets wat volgens haar baie ongewoon was.

Hulle hoop egter steeds om hom lewend te vind en volgens Crisp werk hulle nou saam met die polisie se eenheid vir vermiste persone, sowel as verskeie nie-winsgewende organisasies soos The Pink Ladies, Track n Trace en ander vrywilligers.

Die familie het selfs ’n foto van Mears, wat tans op sosiale media versprei word, aangepas en vir hom ’n baard bygevoeg om te beskryf hoe hy moontlik ná twee maande op straat kan lyk.

Mears het sy huis in Mowbray, Wes-Kaap omstreeks 18:00 op 29 Mei te voet verlaat sonder om sy selfoon, asmapompie en beursie saam te vat. (Foto: Verskaf)

Die soektog na Mears het reeds groot belangstelling op onder meer Facebook gewek met verskeie mense wat beweer dat hulle hom moontlik gewaar het.

Crisp sê egter hoewel hulle baie van dié leidrade opgevolg, hulle nog geen antwoorde kon vind nie.

“Dis wel wonderlik om te sien hoe ’n gemeenskap hande vat in die soektog na Jason. Ons kry soveel ondersteuning van die publiek.”

Hariett sê haar broer sal nie baie in sy skik wees as hy sien hoeveel aandag nou op hom gevestig word nie, aangesien hy ’n baie private, ingetrokke persoon is.

“Hy is glad nie op sosiale media nie en hou daarvan om alleen te wees. Hy was ook nie voor sy verdwyning baie met sy familie in kontak nie.

“Ons hoop egter dat hoe meer mense hiervan weet, hoe beter is die kanse dat ons hom kan opspoor.”

Hariett beskryf haar broer as ’n “sagmoedige siel” wat geen vyande het nie.

Crisp sê mense hoef nie bang te wees om Mears te nader indien hulle hom gewaar nie. Sy het ook gerugte dat hy ’n glasoog het en stom is, verwerp.

Mears het die afgelope paar maande deeltyds vir mense webwerwe gebou.

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navraag reageer nie. Dit is nie duidelik of daar enige vordering met die ondersoek gemaak is nie.

Die familie doen ’n beroep op plaaslike buurtwagte om op die uitkyk vir Mears te wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

Dis baie kommer wekkend as mense sonder rede net so verdwyn…

Elize

Dit klink glad nie goed nie

deHAS

Die vreemde optrede, is dit as gevolg van iets?

Hannelie

Dit klink glad nie goed nie.