‘Sagmoedige reus’ voor gim in Ekurhuleni vermoor

Johan Reed. (Foto: Facebook)

Die polisie is besig met ʼn reusesoektog na die twee aanvallers wat ʼn man Maandagaand voor die Virgin Active-gimnasium in Meyersdal, Ekurhuleni, doodgeskiet het.

Johan Reed (34) was nog in sy motor toe ʼn onbekende persoon verskeie skote op hom afgevuur het, het brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, gesê. Hy is op die toneel dood.

“Die verdagte het daarna in ʼn wit VW Golf GTi gespring en weggejaag,” het sy gesê.

Die motief vir Reed se moord is nie in dié stadium bekend nie.

Reed se pa, ook Johan, wou nie Dinsdag oor die voorval kommentaar lewer nie. Reed se stiefma, Karen, het aan News24 gesê Johan was ʼn gim-fanatikus en sagmoedige reus wat geliefd was onder baie mense.

Talle boodskappe van medelye het ná Reed se dood op sosiale media ingestroom. Hy is beskryf as ʼn ware heer en wonderlike pa. Sy vriendin, Candice Carlson, het op Facebook geskryf hy is hulle “ewige beskermengel”.

Reed het ook ‘n vyfjarige seuntjie.

Die polisie het ʼn beroep gedoen op enigeen met inligting om die Brackendown-polisiestasie te kontak of die polisie se Stop Misdaadnommer te skakel by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Faidan ·

Die seuntjie is nie Candice se seuntjie nie.
Die seuntjie is uit ‘n vorige verhouding.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Faidan

Dankie vir die kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds aangepas.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

EKKE ·

My innige simpatie met die familie. Is daar nie kameras by die perseel, wat dalk iets kon opgeneem het nie?

JH ·

Dis so bitter hartseer dat daai arme kind nou sonder sy pa moet grootword. My jongste seun was maar 4 toe sy pappa oorlede is aan ‘n bloedklont na ‘n operasie en 18maande na sy pappa se afsterwe, is my seun op amper 5 gediagnoseer as ‘n Tipe 1 diabeet as gevolg van die skok van sy pappa se heengaan. Nou moet my seun, nou maar eers 10, vir die res van sy lewe as ‘n insulien afhanklike diabeet voortleef. Nee, dit het niks met die prys van eiers uit te waai nie, maar ek dink aan daai kind wat ook nou sonder sy pappa is. SO ONNODIG! Weet die selfsugtige gemors daar buite wat hierdie daad gepleeg het, wat die nagevolge van hulle dade kan wees? Duidelik nie. En dis ook nie asof hulle omgee nie, want wat is die kanse tog dat hulle ooit gevang gaan word? R.I.V sagmoedige reus en baie sterkte aan al sy naasbestaandes.

JH ·

Net voor ek moet verduidelik… die op amper 5, moes gewees het, op amper 6.. ek vra om verskoning vir die klein tik fout

H ·

Die voorval, hoe dit gedoen is, is soortgelyk aan ‘n voorval ‘n paar jaar gelede, daar is baie ander soorgelyke gevalle. My suster se seun is ook koelbloedig doodgeskiet deur ‘n man wat weggejaag het. Die polisie het hom gevang danksy ‘n motorwag. Hy het skuld erken, wou eers maak of hy geestelik versteurd is, later het hy net skuld erken en geswyg oor hoekom hy dit gedoen het, geen motief. Gelukkig sal hy nog lank sit maar dit bring nie ‘n onskuldige lewe terug nie. Sterkte aan die familie, dis ‘n baie moeilike pad.

Agter die skerms ·

Stem saak – die persoon sit lank maar dit bring nie daai onskuldige persoon terug nie.

hercu ·

“Slegs wanneer politieke leiers reg regeer, gaan dit in ’n land voorspoedig. Hoë belasting kan ’n volk knak. ’n Slegte mens se verkeerde dade is soos ’n gat waarin hy self val. ’n Gelowige is ’n gelukkige mens. Hy sing van vreugde. As die land se president oneerlik is, is die staatsdiens kort voor lank korrup. Wanneer slegte mense regeer, heers wanorde en korrupsie. Gelowiges weet dat so ’n regering tot ’n val sal kom” – Spreuke 29:4‭ DB

Christa ·

SA het n plek van moord en doodslag geword. Jy is in SA glad nie veilig as jy nie Elke dag God se hand oor jou het nie. Ons Moet net onder Sy bloed beweeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.