Sagtewaremaatskappy moet miljoene aan departement terugbetaal

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Die spesiale tribunaal van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het die multinasionale tegnologiemaatskappy Systems Applications Products, bekend as SAP, beveel om meer as R400 miljoen aan die departement van water en sanitasie terug te betaal.

Dit kom nadat twee sagteware lisensie- en ondersteuningsooreenkoms-kontrakte ter waarde van R1 miljard tussen die departement en SAP aangegaan is.

Nadat die SOE bewyse van onreëlmatighede aan die departement en SAP voorgelê het, het hulle gesamentlik ooreengekom dat die kontrakte ongeldig en onreëlmatig is.

Die ooreenkoms is ʼn bevel van die tribunaal gemaak.

Die bevel volg ná ʼn intensiewe ondersoek deur die SOE na die departement se sake, wat onthul het dat hy tussen 2015 en 2016 onreëlmatig sagtewarelisensie- en steunooreenkomste met SAP aangegaan het.

Die maatskappy is vandeesweek beveel om R413 miljoen aan die departement terug te betaal, die bedrag wat die departement reeds vir die lisensie en kontrakte aan SAP betaal het.

Meer as R263 miljoen hiervan moet reeds binne vyf dae nadat die bevel gemaak is, aan die departement betaal word.

Die departement mag egter nou geen van die sagteware wat ingevolge die kontrak aan hom verskaf is, gebruik nie.

SAP het ʼn bedrag van minstens R83 miljoen betwis vir sogenaamde derdepartykoste wat hy aangegaan het en die tribunaal sal later hieroor beslis.

Die SOE en die departement het die bevel verwelkom en sê dit stuur ʼn boodskap aan amptenare en maatskappye wat sake met die staat doen, dat samespanning en onetiese sakepraktyke nie lonend gaan wees nie.

Die SOE het ook aanbeveel dat daar dissiplinêre stappe teen twee van die departement se senior amptenare gedoen word. Volgens die eenheid is tugstappe teen een senior amptenaar afgehandel en uitspraak word binne die volgende week verwag.

“Tugstappe word nou teen die ander amptenaar oorweeg.”

Die SOE het reeds bewyse wat op ʼn strafregtelike oortreding dui, na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Batebeslagleggingseenheid en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) verwys.

Die tribunaal se jongste bevel is ʼn voortsetting van die SOE se pogings om finansiële verliese wat staatsinstelling weens onder meer korrupsie gely het te probeer verhaal.

Nog sake by die spesiale tribunaal wat nog besleg moet word, beloop ʼn gesamentlike R2,1 miljard en sal die herwinning van nog verlore staatsgeld kan beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Renier ·

Sal nog baie geld in die staats amptenare sa bank rekeninge kan kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.