Sahpra: Dié swanger vroue kan wel ingeënt word  

(Foto: Lindsey Parnaby/AFP)

Swanger vroue met komorbiditeite of wat ʼn hoë risiko het vir blootstelling aan Covid-19, soos gesondheidswerkers, kan met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt word.

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) sê swanger vroue kan as deel van die regering se Sisonke-inentingsprogram met die Johnson & Johnson-entstof (J&J) ingeënt word, in konsultasie met hul gesondheidsorgverskaffer.

Die Sisonke-inentingsprogram is Woensdag hervat nadat dit vroeër tydelik gestaak is weens ’n risiko van die vorming van bloedklonte. Sahpra het toe aanbeveel dat swanger vroue en vroue wat borsvoed nie in dié stadium ingeënt word nie.

Volgens Sahpra het swanger vroue ʼn hoër risiko vir ernstige Covid-19-simptome en is daar ook ʼn verhoogde risiko vir vroeggeboorte.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) stel tans voor dat swanger vroue slegs ingeënt word indien die voordeel van die inenting swaarder weeg as die potensiële inentingsrisiko’s, soos as die vrou ʼn gesondheidsorgwerker is met ʼn hoë risiko vir Covid-19-blootstelling of as gevolg van komorbiditeite.

Dit is in dié stadium nog nie duidelik of die J&J-entstof in borsmelk uitgeskei word nie. Vroue wat borsvoed moet oor die afwesigheid van inligting in hierdie verband geadviseer word, en ʼn voordeel-risiko-evaluering moet deur die betrokke dokter gedoen word.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het vroeër gesê die Mediese Navorsingsraad (MNR) sal saam met ander akademiese en wetenskaplike liggame met Sahpra in gesprek tree oor sy aanvanklike aanbeveling dat swanger en lakterende vroue nie in die stadium ingeënt moet word nie.

“Ons hoop dat Sahpra besluit het om moontlik net oorversigtig te wees en dat die wetenskaplikes ’n saak sal kan uitmaak sodat swanger en lakterende vroue ook die entstof kan ontvang,” het Mkhize toe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dirk Mostert ·

As daar “beserings” na inenting van swanger vroue ontstaan sal Sahpra en die Minister aanspreeklik wees. Of nie. Minister Dlamini het reeds daarvoor voorsien en wetgewing voorgestel om al wat leef behalwe belastingbetalers te vrywaar teen eise en vervolging.

Patrys80 ·

Hulle kan hul inenting hou ek gaan nie n proefkonyne wees vir die mense nie sien en hoor te veel nagevolge nee dankie ek en my man bly sonder dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.