Sahpra sê nee vir Russe se Sputnik-entstof

Twee entstofproewe het gewys die gebruik van dié soort entstof hou verband met verhoogde MIV-vatbaarheid onder mans. (Argieffoto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) het die gebruik van die Sputnik-entstof teen Covid-19 in Suid-Afrika afgekeur.

Dr. Boitumelo Semete, hoof van Sahpra, sê ná oorlegpleging met plaaslike en internasionale wetenskaplikes en nadat alle beskikbare data oorweeg is, is besluit dat die gebruik van die Sputnik V-entstof nie in hierdie stadium goedgekeur word nie.

“Sahpra is bekommerd dat die gebruik van die Sputnik V-entstof in Suid-Afrika, met ʼn hoë MIV-voorkoms, die risiko kan verhoog dat mans wat ingeënt is, MIV opdoen,” sê Semete.

Die entstof is in Rusland ontwikkel en Lamar International in Suid-Afrika is die lisensiehouer wat die aansoek by Sahpra ingedien het. Die entstof maak gebruik van twee afsonderlike adenovirus-oordragbouselle. Een daarvan maak staat op adenovirus tipe 26 (Ad26) en die ander op adenovirus tipe 5 (Ad5) as die manier om die antigeen [ʼn stof wat in bepaalde omstandighede ʼn spesifieke immuunreaksie in die liggaam kan ontlok] te vervoer.

Daar is egter kommer oor die veiligheid van Ad5-bousel-entstowwe in bevolkings met ʼn risiko van MIV-infeksie. Een van die uitdagings met die entstof is die teenwoordigheid van voorafbestaande Ad-spesifieke neutraliserende teenliggaampies in die algemene bevolking.

Twee entstofproewe – die Step-proefneming en die Phambili-proefneming – het gewys die gebruik van dié soort entstof hou verband met verhoogde MIV-vatbaarheid onder mans.

Semete sê Sahpra het die aansoekers dus gevra om data, waarin die veiligheid van die Sputnik V-entstof in gebiede met ʼn hoë voorkoms van MIV bevestig word, aan die owerheid voor te lê.

“Die aansoeker kon nie voldoende aan Sahpra se versoek voldoen nie.”

Semete sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het tot dusver ook nie die entstof vir noodgebruik aangedui nie en die jongste bywerking van die WGO dui daarop dat die proses tydelik gestaak is.

“Onlangse mediaberigte het bevestig dat daar voortgesette gesprekke tussen die WGO en die Russiese owerhede is.”

Semete sê hersiene veiligheidsdata kan egter steeds by Sahpra ingedien word om die aansoek te steun.

Die owerheid sê ook hy het kennis geneem van berigte dat aansoek gedoen is vir goedkeuring van die sogenaamde Sputnik Light-entstof, hoewel hy nog geen sodanige aansoek ontvang het nie.

Die EFF het in Junie vanjaar tydens ʼn betoging die strate van Pretoria ingevaar en geëis dat die Sputnik V-entstof, asook die Chinese Sinovac-entstof, vir gebruik in Suid-Afrika goedgekeur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Ben ·

Ek dink dit is dalk nodig om uit te wys dat SAPHRA nie gesê het dat die entstof nie werk nie, maar dat die moontlike gevare in bevolkings met ‘n hoë MIV-voorkoms nognie voldoende getoets is nie. Ek stem egter heeltemal saam met die opinies hier ten opsigte van Malema en die EFF.

Belinda ·

hahaha ja en hy moet sommer twee dosisse inkry. net om almal te wys dis veilig.

Johann ·

Oooooo hier kom moeilikheid! Wat nou gemaak met die “vergiftigte” ANC KADERS wat hulle Russiese pêlle hoogswaarskeinlik belowe het hulle gaan kan kom besigheid doen hier in die RSA?

Kaptein67 ·

As die EFF dan betoog om die enstof te verkry, gee dan die entstof net vir die EFF.

SomeOne ·

die vraag is nou, watter entstof is dan werklik goed om gebruik te word, dankie, maar nee dankie, julle kan al jul entstowwe vir julself hou

VaalDonkie ·

Ons maatskappy het laasweek besluit ALMAL moet inge-ent wees OF verloor jou werk.

So toe moes ek maar oplees oor die verskeie entstowwe om die kans op newe-effekte sover moontlik te beperk:

Die Johnson & Johnson entstof is die een wat mense bloedklonte gee. Dit gebruik ook ‘n adenovirus soos Sputnik, maar dalk ‘n ander een. Die kanse is uiters skraal, maar dit gebeur.

Die Moderna en Pfizer/BioNtech entstowwe gebruik mRNA. Moderna se dosis is meer as drie keer Pfizer s’n (100 teenoor 30). Daar is wel ‘n uiters skraal kans op hartvliesontsteking as die suster jou are raakspuit in plaas van jou spier.

Dus, my persoonlike besluit is om die Pfizer een te vat as ek MOET, want ten minste weet ek daar is baie minder van die “gif” in as Moderna. En boonop kan jy jou kanse op myokarditis beheer deur na ‘n hospitaal te gaan waar verpleegsters ondervinding het ip.v. apteke. Ook: eerder Duitsland as Amerika se entstof.

Hoop dit help iemand wat ook forseer word.

Anel ·

Gaan hof toe. Niemand mag jou dwing om iets te doen wat jy nie wil nie of om dan jou werk te verloor nie. Ek dink Soludariteit het sulke prokereurs.

piet ·

Hy word nie gedwing nie. Dis nou maatskappy-beleid en hy kan besluit of hy daarmee wil saamleef of nie. As vurige ondersteun van die anti-entstof brigade sou mens verwag dat hy bedank en by ‘n plek gaan werk wat oningeentes verwelkom. Die Engelse se mos: “Put your money where your mouth is”.

Suzette ·

Stem saam Anel, sou n werkgewer jou dwing kan hy homself regmaak vir n lekker vet hofstryd. Die Grondwet maak voorsiening vir werknemers om hulle reg uit te oefen. Die CCMA sit ook reg om werkgewers se boelie gedrag vas te vat. Jy hoef nie n prokureur of onbehoorlike regskostes aan te gaan nie.. Dis jou Grondwetlike reg om NEE te se vir enige mediese ingryping aan jou liggaam.

Mercia ·

Ai dis hartseer dat mense nou so in ‘n hoek in gedryf word met die koppeling van hulle werk aan hierdie inspuitings! Ek het gewonder……die regering het aan die begin van hierdie “vaccine rollout” laat blyk dat mense níe sal kan kies met watter produk hulle gespuit word nie……het dit intussen verander?

piet ·

Ek kon kies by Clicks-apteek watter entstof ek wil he. Hang af van wat hulle beskikbaar het.

VaalDonkie ·

Hierso, koos. Dis ‘n lekker maklike een om te begin lees en dan kan jy van daar af self besluit of jy verder wil lees oor enige spesifieke aspekte: https://www.statnews.com/2021/02/02/comparing-the-covid-19-vaccines-developed-by-pfizer-moderna-and-johnson-johnson/

“The mRNA vaccines carry a small risk of myocarditis and pericarditis, two types of heart inflammation that are most commonly seen soon after people receive their second shots, health officials have said. Men under 40 seem to be at highest risk, particularly those aged 12 to 17. Most cases reported have been mild and resolved.”

“The J&J also appears to have a serious — thought different — problem. A small number of individuals who received the vaccine have gone on to develop thrombotic events in the week or two after vaccination; one has died.”

MakersMark ·

Jy werk vir ‘n goeie maatskappy wat sy werknemers beskerm en die arbeidswet ernstig opneem. Pfizer is uitstekend ek het geen nagevolge gehad nie en twee dae na 2 de inenting aangegaan met oefeninge met swaar gewigte nie eers geweet van die inenting nie.

VaalDonkie ·

Ek wil darem ook net noem dat ek nie ‘n dokter is nie, en dus nie raad gee nie. Ek deel maar net my “navorsing” en my persoonlike voorkeur.

Deon ·

Daar is mos sekere maniere wat miv opgedoen word, hoe kan n skoon inspuiting dit vir jou gee?

piet ·

Ek dink ek het iewers gelees dat daar ‘n periode is waar jy kwesbaar kan wees voor die inenting effektief is (terwyl jou liggaam immuniteit opbou) maar ek mag verkeerd wees.

Shakespeare ·

Hopeloos te veel kaders in die SAHPRA bestuur om hulle ernstig op te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.