Sahpra wil hê J&J-inentings moet hervat word

(Foto: Justin Tallis/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) het versoek dat die Johnson & Johnson Sisonke-entstofprogram moet voortgaan.

Die regering het verlede week aangekondig dat hy besluit het om die inenting van gesondheidswerkers met die J&J-entstof tydelik te staak nadat enkele gevalle aangemeld is van mense in die VSA wat bloedklonte ontwikkel het nadat hulle met dié entstof ingeënt is.

Volgens Sahpra het hy met die span wat die Sisonke-proewe hanteer sowel as Janssen Pharmaceutica, ʼn filiaal van Johnson & Johnson, vergader omtrent die veiligheidsdata van die Sisonke-proewe sowel as die newe-effekte wat in die VSA gerapporteer is.

“Op grond van sy hersiening van die beskikbare data beveel Sahpra aan dat die tydelike opskorting van die Sisonke-proewe opgehef word, mits daar aan spesifieke voorwaardes voldoen word.”

Die voorwaardes sluit onder meer in strenger sifting en monitering van deelnemers wat ʼn hoë risiko het vir bloedstollingsprobleme. “Daarbenewens moet maatreëls toegepas word om die veilige bestuur te verseker van alle deelnemers wat trombose en trombositopenie ontwikkel weens die entstof,” lui Sahpra se verklaring. Inligtingsblaaie en ingeligte toestemmingsvorms sal opgedateer word om die nuut geïdentifiseerde newe-effekte in te sluit.

Deelnemers aan die Sisonke-proewe sal ingelig word oor die moontlike risiko’s van die ontwikkeling van bloedstollingsversteuring ná inenting. Hulle sal ook aangeraai word om onmiddellik mediese hulp in te win as hulle vroeë tekens en simptome ontwikkel wat verband hou met bloedklonte of ʼn lae bloedplaatjietelling.

Volgens Sahpra sal die span wat die Sisonke-proewe doen die vereiste opgedateerde dokumente, prosedures en reëlings aan hom voorlê vir goedkeuring. Die hervatting van die inentings sal eers kan gebeur wanneer die nodige etiese navorsingskomitees hul goedkeuring gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Grassie ·

Dit is goed dat die inenting kan voortgaan. Miljoene mense is met die betrokke entstof behandel en net 6 jong vroue in Amerika het probleme ondervind. Dit is ‘n risiko wat ek bereid is om te aanvaar. Ek wens die regering wil lewe in hul onbevoegde agterente kry en spoed optel met die inentings. In my omgewing is al ‘n hele paar mense wat ek goed geken het dood.

Truth2bfree ·

Nee, daar is nou reeds veel meer as 2300 mense dood. Ongelukkig wys die syfer net op plaaslike nuusberigte van verskillende lande en nie op hoofstroom media nie. Daar is eenvoudig te veel geinvesteer in die Inetingsmaatskappye en hulle sal beslis nie negatiewe nuus publiseer nie.

Grassie ·

Is die 2300 waarvan jy praat almal met J&J entstof behandel? Ek glo nie. Om geënt te word of nie is ‘n persoonlike keuse. Ek het die die voor- en nadele teen mekaar opgeweeg en besluit om dit wel te doen. Onthou, spyt kom altyd te laat.

Barend ·

J&J is ook in Denemark gestop omdat mense daar ook bloedklonte gekry het.

Thom ·

Daardie syfers is gelukkig nie waar nie maar bietjie geskaaf om ‘n negatiwiteit oor te dra .

Pieter ·

Sahpra was maar stadig en vol draadwerk met Ivermektien. Met hierdie entstof wil hul voortgaan. Sekerlik ‘n geldwortel voor hul neuse gehou. Onthou dat die entstowwe se langtermyn effekte nie bekend is nie, maar tog waarskuwings vir is.

Truth2bfree ·

Ek het verskeie lande se plaaslike berigte gelees van newe-effekte en bloedklont sterftes. Daar is mense wat steeds positief toets na die inenting en dodelik siek word.

Dirk Mostert ·

Minister Dlamini-Zuma het op 15 April ‘n wetsontwerp by die parlement ingedien vir ‘n Covid-19 “Beserings” Kompensasiefonds-Skema (Vaccine Injury No-Fault Compensation Scheme). Vervaardigers van Covid-entstowwe word vrygestel van eise, maar die beoogde fonds, deur belastingbetalers gefinansier, sal op ‘n soortgelyke basis as die Padongelukkefonds funksioneer. Die publiek het tyd tot sluiting van besighede, 19 April om kommentaar te lewer. https://dearsouthafrica.co.za/vax-injury/
Maroela lesers is meestal intelligent genoeg om hul eie afleidings te maak.

Grassie ·

Die regering is tans besig om die mediese fondse te probeer oortuig (dwing) om vir elke inenting waarvoor hulle betaal nog ‘n inenting te “borg” vir iemand anders. Jy gaan deur jou fonds dus vir jouself en “iemand anders” betaal. Maar ons is mos al gewoond daaraan om op geparasiteer te word, so dit sal seker maar net gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.