Saica kap terug ná Malema se bewerings

Die lede van die kommissie wat staatskaping sal ondersoek. Foto: Gertrude Makhafola/ANA

Die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) het bewerings deur die EFF dat die instituut gekaap is ontken en gesê hy het die R1,2 miljoen-donasie wat hy ontvang het van Trillian Capital Partners, ʼn maatskappy wat bande met die omstrede Gupta-familie het, terugbetaal.

Dit kom nadat die EFF Donderdag beweer het Terence Nombembe, die man wat pas aangestel is as die hoof van die ondersoekspan in die kommissie van ondersoek na staatskaping, is “ʼn skelm” omdat hy in sy hoedanigheid as uitvoerende hoof van Saica die omstrede donasie van Trillian aanvaar het. EFF-leier Julius Malema het daarop aangedring dat Nombembe van die kommissie van ondersoek verwyder word.

Malema het gesê die party sal regstappe doen indien adjunkhoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie lei, nie van Nombembe ontslae raak nie.

Fanisa Lamola, Saica se waarnemende uitvoerende hoof, het gesê die R1,2 miljoen was ʼn donasie aan ʼn studentebeursfonds in Februarie 2017.

Volgens Lamola het Trillian op dieselfde manier as talle ander openbare en private donateurs ʼn donasie aan die beursfonds gemaak sonder dat hulle daarvoor gevra is. Saica se Thuthuka Bursary Fund (TBF) befonds voornemende studente wat hulle as rekenmeesters wil bekwaam.

Lamola het gesê die geld is terugbetaal nadat adv. Geoff Budlender se verdoemende verslag oor Trillian se beweerde betrokkenheid in die staatskaping-debakel in Junie verlede jaar bekendgemaak is.

Die ondersoek is van stapel gestuur deur die voormalige Trillian-voorsitter, Tokyo Sexwale.

“As ʼn instansie wat trots is op ons etiese gedrag, het die TBF se raad van trustees besin oor die donasie van Trillian by ʼn raadsvergadering wat in Julie 2017 gehou is. Dit is gedoen in die lig van die inligting oor Trillian wat aan die lig gekom het. Die raad het eenparig besluit om die donasie onmiddellik aan Trillian terug te betaal,” het Lamola gesê.

“Saica het Trillian ingelig van die TBF-raad se besluit om die donasie terug te betaal. Nadat Trillian se bankbesonderhede ontvang is – wat die maatskappy eers in Augustus aan Saica verskaf het nadat Saica volgehou het dat hy die donasie wil terugbetaal – is die donasie ten volle aan Trillian terugbetaal.”

Trillian, wat destyds beheer is deur voormalige pres. Jacob Zuma se vriende, die Gupta-broers, het miljarde rande verdien deur Suid-Afrika se staatsinstansies, insluitend ʼn betaling van R1,6 miljard wat Trillian van Eskom ontvang het sonder ʼn kontrak en sonder om enige werk te verrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alida ·

Soos gewoonlik het Malema die klok hoor lui maar weet nie waar hang die bel nie!!!! What’s new.

Anoniem ·

Ek wil graag weet….. waar kry Malema al sy eerste handse inligting vandaan? Nie net van hierdie bewerings nie…..maar van n klomp ander wat hy maak? Sy informante is oral.

A ·

Die ANC voorsien hom van al die inligting. Hulle gebruik om as ‘n spreek buis.

charmaine ·

Die vorige Auditor Gerneral (Terence) het beter kwalifikasies waarvan Malema net kan droom. Wat het hy? Net n rooi hoedjie.

Sarel Strydom ·

Malema werk, soos ander wat ek weet, op propoganda Politiek en kry so steun van die oningeligte massas. Laat him hof toe gaan indien hy sy saak kan stel laat ons sien wier is reg.

Marie ·

Hukom wil Malena die mense uit laat Is hy dalk skuldig iewers Bang hulle vang hom ook uit en dan is sy volgelinge ook minder

Johan ·

Wat van die uiters rassitiesse uitlaating wat die malema geopper het oor die hoof van die ondesoek….ons soek daaroor ook n verduideliking Saica…..hiekom verdedig hulle nie ook die uiters blatante….uitsprake nie……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.