Saica stel klagte teen beleërde Markus Jooste in

Saica het vier klagte teen Jooste ingestel. (Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) het nou amptelik klagte ingestel teen die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste.

Jooste, wat beskuldig word daarvan dat hy die baasbrein agter Steinhoff se ongelooflike ineenstorting was, het in Junie 2019 by die instituut bedank.

Saica het egter besluit om nie sy bedanking te aanvaar nie en eerder sy lidmaatskap op te skort hangende die afhandeling van tugstappe teen hom.

Saica het Maandag gesê ná ʼn omvattende ondersoek is vier aanklagte nou teen Jooste aanhangig gemaak. Dit is reeds aan sy regspan gestuur.

Hy word onder meer daarvan beskuldig dat hy volgens die tugkomitee opgetree het op ʼn manier wat “skandelik, oneervol, oneerlik, onregmatig of onwaardig” teenoor die instituut was, of wat die beroep in oneer gebring het, en/of dat hy versuim het om te voldoen en gehoor te gee aan die basiese beginsels van Saica se gedragskode.

Nog een van die klagte hou verband met Jooste, as geoktrooieerde rekenmeester, se beweerde versuim om te voldoen aan wetgewing en bepalings en dat hy bewus was, of moes gewees het, van nie-voldoening en steeds versuim het om verskeie ongerymdhede in Steinhoff se jaarlikse state aan te meld. Pleks daarvan het hy na bewering misleidende verklarings oor die rekeningkundige ongerymdhede gedoen, lui een van die vier klagte.

Jooste het nou 21 dae om te reageer op die klagte wat Saica teen hom uiteengesit het.

Saica sê sodra Jooste op die klagte geantwoord het, sal die sekretariaat sy reaksie hersien en die kwessie vir beslissing aan die beroepsgedragskomitee voorlê.

In Maart vanjaar het Duitse aanklaers vier mense aangekla in verband met bedrog by die beleërde handelsreus – en Duitse media het berig Jooste se naam was een van dié op die klagstaat.

Die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) het Jooste ook ʼn boete van sowat R161 miljoen opgelê vir oortredings wat verband hou met die Wet op Finansiële Markte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

johanf ·

Jy neuk nie met SAICA, en hoeveel gee hulle nie voor as Geoktrooieerde Rekenmeesters nie, ń graad alleen, maak jou nie ń Geoktrooieerde Rekenmeester…..nie….!!

Wielspore ·

Die moontlikheid dat Markus Jooste tronkstraf sal uitdien is net so min soos vir ‘n moordenaar in SA.

JAN ·

Net so min as Zumpie sal hy nooit tronk toe gaan nie. Die regslui lag al weer vir jarelange inkomste. Die land is siek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.