SAID-adjunkkommissaris bedank

Jonas Makwakwa, voormalige hoof vir sake- en individuele belasting by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Foto: http://www.sars.gov.za/

Jonas Makwakwa, hoof vir sake- en individuele belasting by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het bedank.

Tom Moyane, die SAID se kommissaris, het Woensdag dié aankondiging tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gemaak.

Makwakwa se bedanking volg nadat hy vroeër ingestem het om ʼn verslag rakende sy belastingopgawe aan onder andere Nhlanhla Nene, minister van finansies, bekend te maak nadat hy vir lank geweier het om sy opgawe aan die staande komitee oor finansies te oorhandig. Hy het aangevoer hy is op sy privaatheid geregtig, net soos ander belastingbetalers.

Sy bedanking is reeds in werking nadat hy vir 22 jaar vir die inkomstediens gewerk het.

Moyane het gesê Makwakwa het vir persoonlike redes bedank en sal steeds sy persoonlike belastingsertifikaat beskikbaar stel vir blootlegging.

“Hy beskou dit as ʼn goeie tyd om die SAID te verlaat nadat hy van alle bewerings van wangedrag deur middel van ʼn formele dissiplinêre verhoor vrygespreek is,” het Moyane gesê.

Maroela Media het vroeër berig Makwakwa is aanvanklik geskors hangende ʼn ondersoek na “verdagte en ongewone betalings” van altesaam R1,2 miljoen, wat tussen 2010 en 2016 in sy persoonlike rekening inbetaal is. Die SAID het destyds gesê hy het ʼn onafhanklike internasionale regsfirma, Hogan Lovells, aangestel om dié bewerings te ondersoek.

Adv. Terry Motau is daarna aangestel as die voorsitter van die dissiplinêre proses teen Makwakwa, wat gegrond was op Hogan Lovells se verslag.

Makwakwa se skorsing is in Oktober verlede jaar in ʼn omstrede besluit weer opgehef, gegrond op die inligting vervat in die verslag deur Hogan Lovells. Dit was ondanks die feit dat dié verslag glo nie ondersoek ingestel het na die bewerings wat oorspronklik tot Makwakwa se skorsing aanleiding gegee het nie.

Die SAID het Dinsdag onderneem om die Hogan Lovells-verslag en Motau se dissiplinêre verslag Vrydag aan die staande komitee van finansies te oorhandig.

Sandile Memela, ʼn woordvoerder van SAID, het ná Woensdag se perskonferensie aangekondig dat Mark Kingon as waarnemende hoof vir sake- en individuele belasting aangewys is.

“Kingon is bykans 34 jaar in die SAID en is tans die uitvoerende groephoof van verhoudingbestuur van sake- en individuele belasting. Hy is ʼn gerespekteerde uitvoerende hoof wat hom binne die organisasie opgewerk het. Hy word ook wyd gerespekteer binne die breër professionele belastinggemeenskap,” het Memela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

TLC ·

Mmmmmm is dit omdat die patat warm word op die kole en wonder of hy ook n lekker pension gaan kry. Tom kyk wyd die kring trek al nouer om jou strot

PJC ·

Die eintlike vlieg in die salf is Tom Moyane en op een of ander manier moet daar van hom ontslae geraak word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.