SAID-gyselaarvoorval is ‘absoluut onaanvaarbaar’, sê Gordhan

Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Donderdag gesê indien dit waar is dat ʼn SAID-beampte deur die Valke getakel is toe hulle bewyse teen hom wou bekom om in die hof te gebruik, is dit absoluut onaanvaarbaar.

“As dit die waarheid is, is dit heeltemal onaanvaarbare gedrag,” het Gordhan aan ʼn gesamentlike sitting van die parlement se gekose en staande komitees oor finansies en bewilligings gesê.

David Maynier, woordvoerder van die Demokratiese Alliansie, wou by die minister weet wat sy reaksie is op berigte dat Vlok Symington, senior beampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, teen sy wil aangehou is deur lede van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) en die lyfwag van SAID-kommissaris Tom Moyane, om glo ʼn dokument te bekom.

Die dokument is glo ʼn afskrif van ʼn e-pos van ʼn SAID-prokureur, wat Moyane in kennis stel dat hy nie aan ʼn versoek van die Nasionale Vervolgingsgesag sal voldoen om antwoorde van Symington te bekom wat verband hou met ʼn saak waar Gordhan deur bedrogaanklagte in die gesig gestaar word nie, aangesien hy nie saamstem met hul strewe om die minister te vervolg nie.

Die e-pos is foutiewelik aan verskeie persone aangestuur.

Gordhan het gesê hy het “fluisteringe” gehoor oor dit wat gebeur het en sal Moyane daarmee konfronteer. “Ek sal mnr. Moyane daaroor uitvra sodra ek ʼn kans kry. Kom ons kry eers die feite en dan vat ons dit van daar af.”

Die Valke en die NVG het bedrogklagte teen Gordhan aanhangig gemaak en hy moet volgende week weer in die hof verskyn. Hy word aangekla in verband met die besluit om voormalige SAID-adjunkkommissaris Ivan Pillay se vervroegde aftrede met volle voordele goed te keur.

Die Mail & Guardian het berig dat Symington deur die Valke ondervra is oor sy regsmening dat daar niks is wat die SAID verhoed het om Pillay met volle voordele voor die ouderdom 60 te laat gaan en hom weer op ʼn kontrakbasis aan te stel nie.

Intussen dui ʼn beëdigde verklaring wat Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof ingedien is deur twee grondwetregtegroepe, wat die besluit daag om die minister van finansies aan te kla, daarop dat die Valke hul pogings om bewyse teen Gordhan te bekom, verskerp is.

Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman-stigting, het die bykomende verklaring ingedien, tesame met ʼn dagvaarding wat verlede Donderdag op die uitvoerende hoof van die regering se pensioenfondsadministrateurs, Krishen Sukdev, beteken is.

Sukdev het opdrag ontvang dat hy afskrifte van die dokumente moet verskaf wat ingedien is oor Pillay se vroeë aftrede, tesame met ʼn verklaring wat die goedkeuring van versoeke van 3 000 ander regeringsbeamptes om voor 60 af te tree, verduidelik.

Daar woord ook bewyse versoek dat Gordhan verantwoordelik was vir goedkeuring in vyf sake.

Antonie het gesê die dagvaarding wys dat die NVG gehaas het om Gordhan aan te kla, sonder voldoende bewyse, en dat hulle nou na die tyd ʼn saak probeer bou.

“Die dagvaarding is ʼn beskuldiging van die ondersoekende en staatsaanklaerproses,” het hy in sy verklaring aangevoer. “Dit is ook duidelik dat die NVG nie die voldoende ondersoek afgehandel het of voldoende bewyse bekom het om die formidabele besluit te neem om aanklagte teen minister Gordhan aanhangig te maak nie.”

Lees alle vorige berigte oor Pravin Gordhan op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

wat nou ·

Hulle moet iets kry om hulle nr1 klient te beskerm anderste waai hulle koppe

Buitestander ·

Benoude katte maak benoude spronge.
Dinsdag oggend voor die hofsaak gaan die “Valke & NVG” die aanklag terug trek en lag hulle in die mou!

Cherokee ·

Die muntstuk het ook ‘n ander kant. ‘n Kant wat om een of ander rede heel misgekyk word. Julle kla en mor oor bedrog deur die regering maar dit pla julle nie dat Ghordan(?) kollegas vroegtydig met volle voordele laat aftree en daarna weer aanstel. Dit is wel so dat Zuma en kie soveel moontlik munt daaruit probeer slaan. Munt wat hulle hoop ‘n straler sal insluit. Dit verander steeds nie die ander kant van die muntstuk nie. As julle kla sê Zuma mag nie belastinggeld steel nie, waarom is julle gelukkig daarmee as die belastinggaarder self dit doen? Wees konsekwent.

Plutarch ·

Waar is die dae toe die polisie nog die polisie was en die Kantoor vir Ernstige Ekonomiese Misdrywe (KEEM) nog hoogs gerespekteerd was? Toe word sekere “eenhede” mos vernoem na insekte (Scorpions), slange (SIU) en voels (Valke). Ons her al amper genoeg diere vir n sirkus.

Ouman ·

Wat ‘n sirkus. Hulle maak ‘n bespotting van ons regstelsel. Die Hawks is al ‘n geruime tyd onder verdenking en nou is dit bewys dat hulle niks ondersoek sonder bymotiewe nie. Die “commissioner” se streke is nou ook in die openbare oog. Hier kom pret. Die koppe sal moet rol

Netta ·

Presies dieselfde het in Phalaborwa gebeur by ‘n saak waar Abrahams en die Valke ook betrokke was. Ou modus operandi van die lot.

ouma ·

Genade hier gebeur die dinge onder my neus by die werk en ek vind dit eers die vlg dag uit gee hul gas Vlok hul raak nou baie benoud en desperate times need desperate measures

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.