SAID het glo op NVG gespioeneer

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Voormalige agent in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het erken hy het onwettig spioenasietoerusting by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se kantore aangebring, berig Sunday Times.

In ’n verklaring wat verlede week by die Valke ingedien is, het Helgard Lombard gesê sover hy kan onthou het hy slegs inligting gemonitor en deurgegee rakende die korrupsiesaak van die voormalige polisiehoof Jackie Selebi.

Johan de Waal, wat glo ook deel was van dieselfde “skelm afdeling”, het ook ʼn verklaring ingedien met inligting oor ’n operasie in 2007 waartydens daar op senior NVG-beamptes gespioeneer is rakende die Selebi-saak.

Selebi is in 2010 tronk toe gestuur nadat hy aan korrupsie skuldig bevind is. Hy is later op mediese parool vrygelaat en is in Januarie vanjaar oorlede.

Volgens die twee mans se verklarings is daar oudiovisuele spioenasietoerusting in 12 kantore en vergaderlokale by die NVG se hoofkantoor in Pretoria geïnstalleer.

Ivan Pillay, voormalige adjunk kommissaris van die NVG wat daarvan beskuldig word dat hy toestemming gegee het vir die onwettige operasie, staan volgens die koerant tereg op ʼn string aanklagte in verband met die voorval.

Gerrie Nel en Andrew Leask, senior aanklaers en voormalige beamptes in die Skerpioene, word glo ook betrek vir hul beweerde betaling van die spioenasietoerusting.

Luther Lebelo, woordvoerder van die SAID, het gesê hy is “diep geskok” deur die bewerings maar het geweier om verder kommentaar te lewer en gesê dit sal onvanpas wees om dit te doen tot en met  ʼn verslag wat oor die geleentheid saamgestel word, afgehandel is.

Velekhaya Mgobhozi, woordvoerder van die NVG, het gesê die NVG het SAID-agente meer as R900 000 betaal vir “veiligheidsopgraderings” by sy hoofkantoor.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.