SAID-hoë as NSFAS-administrateur aangestel

Naledi Pandor, minister van hoër onderwys en opleiding, het dr. Randall Carolissen, hoof van inkomstebeplanning, ontleding en verslagdoening by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) as administrateur van die nasionale hulpskema vir studente (NSFAS) aangestel.

Sy aanstelling kom ná Sizwe Nxasana, wat vir drie jaar aan die hoof van die hulpskema was, se bedanking as voorsitter van die raad.

Die departement van hoër onderwys en opleiding het Vrydag gesê dat Carolissen vir een jaar as NSFAS se administrateur aangestel is om die regering, bestuur en administrasie van die entiteit oor te neem.

“Die aanstelling sal ʼn aanvang neem vanaf die datum waarop die kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer is – dus, vroeg volgende week,” lui ʼn verklaring van die departement.

Maroela Media het vroeër berig Nxasana het verlede Donderdag sy bedanking aangekondig te midde van toenemende oproepe dat hy moet bedank uit die pos wat hy die afgelope drie jaar beklee het.

NSFAS was onlangs weer in die spervuur nadat Pandor opdrag gegee het om befondsing vir 2019-studente te staak weens die agterstand rakende uitbetalings van 2017 en 2018.

Nxasana, ʼn voormalige uitvoerende hoof van FirstRand, het gesê NSFAS is sedert Desember onder erge druk ná oudpres. Jacob Zuma se aankondiging dat meer studente gratis hoër onderwys sal ontvang.

Die Suid-Afrikaanse Unie van Studente (SAUS) het vroeër dié week gesê Nxasana het misluk daarin om NSFAS se lot om te keer. Die organisasie eis dat NSFAS se raad ontbind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Alles word ondersoek maar niemand ry ooit aan die pen nie en geen tronkstraf word gegee nie. Hoe werk dit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.