SAID konfiskeer $9.3 miljoen by Lanseria-lughawe

Argieffoto Foto: usfinancepost.com

Argieffoto Foto: usfinancepost.com

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het by die Lanseria-lughawe in Gauteng beslag gelê op kontant ter waarde van $9.3 miljoen (ongeveer R102 miljoen).

“Die passasiers, twee Nigeriërs en een Israeli, se bagasie is op 5 September deursoek nadat doeanebeamptes onreëlmatighede in die bagasie opgemerk het,” het Adrian Lackay, woordvoerder vir die SAID, Sondag gesê. “Die geld is gekonfiskeer omdat dit nie verklaar is nie en die hoeveelheid bó die voorgeskrewe wettige beperking is vir geld wat in die land ingebring mag word.”

Die geld word tans in ʼn kluis by die Suid-Afrikaanse Reserwebank gehou.

Die saak is aan die polisie oorhandig en die Valke sal verdere ondersoek instel. Solomon Makgale, nasionale woordvoerder vir die polisie, het bevestig dat die saak by die eenheid aangemeld is.

Paul Ramaloko, woordvoerder vir die Valke, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Rapport het berig die mans sou die geld gebruik om wapens aan te skaf. Die passasiers het aangevoer hulle tree namens die Nigeriese intelligensiediens op, maar die Nigeriese owerhede kon dit nie bevestig nie, het die koerant verder berig.

Die groep het glo ook dokumente by hulle gehad wat bevestig dat hulle wapens in Suid-Afrika wil aanskaf. Dit is nie duidelik of die Israeliese passasier vir die intelligensiediens werk en of hy ʼn wapenhandelaar is nie, berig die koerant.

Die nasionale komitee oor die beheer oor konvensionele wapens (NCACC), wat permitte uitreik vir die invoer en uitvoer van wapens, was nie bewus van enige aansoek vir só transaksie nie. Die komitee het glo bevestig dat hy bewus is van die voorval, maar hy wou nie verder kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.