SAID kry gesteelde miljoene terug

(Argieffoto bloot ter illustrasie.)

Drie mans wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) glo uit miljoene rande wou bedrieg, het verlede week in die gespesialiseerde handelsmisdaadhowe in Pretoria en Palm Ridge verskyn.

Die beskuldigdes – wat by twee verskillende konstruksiemaatskappye in Gauteng werksaam is –  is op 24 Februarie vir bedrog van altesame R10,2 miljoen aangekla.

Die SAID het dié geld aanvanklik ná die verwerking van die eise in die onderskeie bankrekeninge inbetaal, maar dit kort daarna suksesvol teruggetrek.

Volgens kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder vir die Valke, het Pule Louis Molele (52), direkteur van Suxeed Invest in Atteridgeville, Pretoria-Wes, en sy medebeskuldigde, Solly Ngobeni (44), bedrieglike belastingopgawes van meer as R1,1 miljoen via die SAID se aanlyn liasseringsdiens ingedien. Ngobeni is ʼn onafhanklike belastingpraktisyn.

Die bedrieglike opgawes was vir die terugbetaling van belasting op toegevoegde waarde vir die tydperk tussen Augustus en Desember 2019. Die SAID het die R1,1 miljoen glo oorbetaal, maar teruggetrek nadat die entiteit se forensiese ondersoekspan vasgestel het dat die eise inderdaad bedrieglik was.

“ʼn Onmiddellike terugtrekking is gedoen en die geld is na die SAID teruggeplaas.

“Die saak is deur die Valke ondersoek waarna ʼn lasbrief vir die beskuldigdes se inhegtenisneming uitgereik is. Hulle het hulself aan die Valke oorgegee en is gevolglik aangekla.”

Molele en Ngobeni is elk op borgtog van R500 vrygelaat en sal Vrydag 4 Maart weer in die hof verskyn.

Die 51-jarige Elias Omen Magheje het homself ook op 24 Februarie aan die Valke in Johannesburg oorgegee in verband met R9,9 miljoen wat hy tussen November 2017 en Januarie 2018 bedrieglik van die SAID geëis het.

Dié eise is deur Machembe Constructions and Projects BK, ʼn Randfonteinse konstruksiemaatskappy, vir terugbetaling via e-liassering ingedien. Die geld is ook deur die SAID uitbetaal, maar kort daarna suksesvol teruggetrek.

Hy is borgtog van R30 000 deur die Palm Ridge- gespesialiseerde handelsmisdaadhof toegestaan. Hy kon egter nie die vereiste bedrag bybring nie en sal tot sy volgende hofverskyning op 31 Maart in aanhouding bly.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

R10 miljoen… Sjoe watter uitkoms vir SAID! Ons renteskuld kan betaal word! Vang die klein vliegies. Die grotes is te gevaarlik.

Ian

Daai geld is lankal verdoesel. Die gesegde van easy come easy go is hier te werk. Hy sal bitter min kan wys. As ek daai tipe geld het tree ek af en lewe gerieflik sonder om aandag te trek.

B-Man

Maar ek word elke jaar “lukraak” gekies vir ‘n oudit op die paar duisend rand se terugbetalings wat ek verdien?

Owlie

Dit is totaal onverstaanbaar en onaanvaarbaar dat diegene wat bedrog pleeg op borgtog uit gaan tot n volgende hof sitting Alle bewyse is daar, suld erkenning is daar, die hofsaak is aan die gang Vonnis onmiddellik, daar is derduisende hofsake wat net elke keer uit gestel word wat die belasting betaler raak Vol tronke is geen verskoning – daar is genoeg staats persele wat nie ten volle benut word nie wat in n tronk omskep kan word – sluit die spul op en laat hulle hande arbeid onder streng toesig sonder enige tegnologie doen

jlantie

Wat van die miljarde wat met “oops sorry” verloor word