SAID lê beslag op meer as R9 miljoen by Jhb-lughawe

Die kontant wat by OR Tambo Internasionale lughawe gekonfiskeer is (Foto: SAID)

Doeanebeamptes het die afgelope week verskeie deurbrake gemaak by talle grensposte, waaronder meer as R9 miljoen kontant wat onderskep is onderweg van Suid-Afrika na Dubai.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het in ʼn verklaring gesê twee manlike passasiers, wat op hul eie gereis het, is Maandag by OR Tambo Internasionale Lughawe ondervra en hulle het beken dat hulle Amerikaanse valuta in hul besit het.

“Tydens verdere ondervraging kon die twee passasiers nie ʼn verduideliking bied of bewyse lewer hoe hulle die dollars bekom het nie. Hulle is na die doeanebeheergebied geneem en hul onderskeie bagasie is deursoek,” het Sicelo Mkosi, woordvoerder van die SAPD, gesê.

Een van die mans het $464 650 (ongeveer R6,1 miljoen), wat met papier en bruin kleefband toegedraai is, in sy tas gehad. Die tweede man het $234 000 (meer as R3 miljoen) in sy besit gehad, ook toegedraai in papier met bruin kleefband.

“Die kontant is gekonfiskeer en die passasier is aan die SAPD oorgegee vir verdere ondersoek.”

Kokaïen wat as motoronderdele versend is (Foto: SAID)

Mkosi het gesê ʼn versending van Suid-Afrika na Brittanje is ook op 31 Julie ondersoek toe die inhoud buitengewoon swaar was. Die inhoud, wat as ʼn motoronderdeel verklaar is, is deursoek en beamptes het op 15 blokke van ʼn wit poeieragtige bestanddeel afgekom. Dit was in swart rubber en foelie toegedraai. “Die poeier is geanaliseer en dit het positief getoets vir kokaïen. Die goedere weeg 16 kg met ʼn geraamde waarde van R4,8 miljoen. Die versending is aan die Valke oorhandig vir verdere ondersoek.

In nog ʼn geval is ʼn pakkie, wat as boeke verklaar is, wat van Suid-Afrika na Australië op pad was, deur koeriers onderskep toe ʼn snuffelhond op die pakkie reageer het. “Vier boeke het plastiekbladsye met ʼn poeieragtige middel gehad. Dit het positief getoets vir kokaïen,” het Mkosi bygevoeg. Die goedere, wat 2,5 kg weeg, het ʼn geraamde waarde van R750 000. Dit is ook aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Ons ekonomie kook. Ons voer selfs hope onderdele na Australie van alle plekke uit. En dollars na die arme Dubai se hongeres ~ ons hoop nie die ZG & M-buurt het probleme nie. Dit het dan so voorspoedig gegaan. Dalk raak die kerse ook nou op. Hoe wreed van die security of was die aanloopbaan by Waterkloof te oorvol om daar op te styg$… Stoute brak!

jd ·

Waar gaan daai geld nou heen wat teruggevind is ?Na die ander crooks in blou.

Cherokee ·

Met àl die computerismes en ander fasiliteite tot ons beskikking kan ons selfs in die 21ste eeu steeds nie eens ‘n kleinigheid doen sonder om van God se skepping gebruik te maak. Steeds kan ons dit nie opspoor sonder om gebruik te maak van dìt wat in ‘n verlede wat onberekenbaar is, deur God se hand geskep is. Komplimente aan die hond.

kas ·

Hoekom was so baie geld oppad na Dubai.Waar kruip die Guptas nou weer weg,sekerlik nie in Britanje nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.