SAID onderneem om Makwakwa-verslae vry te stel

Jonas Makwakwa, hoof vir sake- en individuele belasting by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Foto: http://www.sars.gov.za/

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het onderneem om die Hogan Lovells-verslag en adv. Terry Motau se dissiplinêre verslag Vrydag aan die staande komitee van finansies te oorhandig.

Dit volg nadat Jonas Makwakwa, hoof vir sake- en individuele belasting by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, ʼn brief aan die kommissaris geskryf en hom magtiging gegee het om die betrokke verslag vry te stel.

“In ʼn noemenswaardige ontwikkeling moet dit ook genoem word dat Makwakwa ingestem het dat inligting oor sy persoonlike belasting, wat met die ondersoek verband hou, bekendgemaak mag word en met die minister van finansies Nhlanhla Nene, voorsitter Yunus Carrim en lede van sy komitee gedeel mag word,” het Sandile Memela, woordvoerder van die SAID, gesê.

Die SAID het onlangs ʼn skrywe aan die voorsitter van die komitee gestuur om ʼn paneel kenners saam te stel om die parlement, finansiële-intelligensiesentrum en die SAID van regshulp te bedien oor die saak.

Tom Moyane, kommissaris van die SAID, het ʼn brief gedateer 11 Maart 2018 voorgehou wat Makwakwa ingedien het en ingestem het dat sy ouditverslae met die minister en die komitee gedeel kan word.

“Die SAID neem ook kennis van mediaberigte oor ʼn beweerde verbintenis tussen Makwakwa en New Integrated Credit Solutions (NICS), een van die agt agentskappe wat deur ʼn wettige proses aangestel is vir die insameling van meer as R16,6 miljard van agterstallige skuld wat aan die SAID verskuldig is,” het Memela bygevoeg. “Die SAID beskou die bewering in ʼn baie ernstige lig en sal die saak dadelik ondersoek vir ʼn vinnige oplossing. Enige misstappe sal vinnig sonder vrees of voordeel hanteer word.”

Memela het gesê die 14 000 werknemers van die SAID bly gefokus om hul hersiene teiken van R1,217 miljard te bereik voor die einde van Maart 2018, so moeilik soos wat dit ook mag wees.

Maroela Media het vroeër berig Makwakwa is aanvanklik geskors hangende ʼn ondersoek na “verdagte en ongewone betalings” van altesaam R1,2 miljoen, wat tussen 2010 en 2016 in sy persoonlike rekening inbetaal is. Die SAID het destyds gesê hy het ʼn onafhanklike internasionale regsfirma, Hogan Lovells, aangestel om dié bewerings te ondersoek.

Adv. Motau is daarna aangestel as die voorsitter van die dissiplinêre proses teen Makwakwa, wat gegrond was op Hogan Lovells se verslag.

Makwakwa se skorsing is in Oktober verlede jaar in ʼn omstrede besluit weer opgehef, gegrond op die inligting vervat in die verslag deur Hogan Lovells. Dit was ondanks die feit dat dié verslag glo nie ondersoek ingestel het na die bewerings wat oorspronklik tot Makwakwa se skorsing aanleiding gegee het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lerato ·

Daar is in SA, net te min “checks and balances”
Hoe kom die skelms met biljoene weg? Tel die ouditeure dit nie op nie?
Word die ouditeure grootskaals omgekoop?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.