‘SAID-ondersoek en Moyane-verhoor mag nie saam plaasvind’

Tom Moyane (Foto: ANA)

Dali Mpofu, regsverteenwoordiger van die geskorste inkomstediens-baas, Tom Moyane, het Saterdag aangevoer dit is onregverdig dat die dissiplinêre verhoor teen Moyane en die Nugent-kommissie se ondersoek na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) tegelykertyd plaasvind.

Pres. Cyril Ramaphosa het afgetrede regter Robert Nugent aangestel om die kommissie van ondersoek na bestuurskwessies by die SAID te lei. Azhar Bham is aangestel om Moyane se dissiplinêre verhoor te behartig. Moyane is betrokke in ʼn regsgeding met Ramaphosa wat hom in Maart vanjaar geskors het.

Hy word beskuldig van wangedrag wat verband hou met die ondersoek na Jonas Makwakwa, voormalige senior SAID-beampte, en die beweerde wanbestuur van BTW-terugbetalings wat die inkomstediens glo “in ernstige oneer gebring het”.

Mpofu het Saterdag by Moyane se dissiplinêre verhoor gesê daar is oorvleueling tussen die Nugent- en Bham-ondersoeke en dit skep ʼn onregverdige situasie. “Die argument dat die een ʼn dissiplinêre verhoor is en die ander ʼn ondersoek maak nie saak nie. Albei behoort regverdig te wees,” het hy gesê.

Mpofu het voorheen voor die Nugent-kommissie aangevoer die ondersoek na bedrywighede by die SAID moet gestaak word hangende Moyane se dissiplinêre verhoor. Nugent het Moyane se versoek om die ondersoek tydelik te staak geweier en die versoek as “skandelik” bestempel.

Adv. Heidi Barnes, vir Ramaphosa, het gesê die twee prosesse kan oorvleuel. Sy het as voorbeeld gesê: “ʼn Werknemer wat verdink word van bedrog kan by sy werk dissiplinêr verhoor word en terselfdertyd op strafregtelike aanklagte teregstaan.

“Die verwysingsraamwerk is duidelik en heeltemal wettig en regverdig. Al wat jy by magte is om te doen, as voorsitter, is om hierdie dissiplinêre verhoor binne die verwysingsraamwerk te behartig,” het sy aan Bham gesê.

Sy het argumente dat daar ʼn sameswering is rakende die tydsberekening van die ondersoek en die dissiplinêre verhoor verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

zoom zoom ·

ZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZZ GAAAAAP. BLA BLA BLA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.