SAID se omstrede inligtingshoof geskors

Makhete-Mokhuane tydens die TV-onderhoud.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het sy omstrede inligtingshoof, Mmamathe Makhekhe-Mokhuane, geskors.

Volgens Siphithi Sibeko, woordvoerder van die SAID, is Makhekhe-Mokhuane voorkomend geskors hangende die afhandeling van ʼn tugproses ten opsigte van ernstige bewerings van wangedrag.

Makhekhe-Mokhuane het verlede jaar oornag bekend geword ná haar getuienis voor die Nugent-kommissie van ondersoek en ʼn bisarre televisieonderhoud.

Tydens haar getuienis voor die kommissie het sy op ʼn vraag oor wat sy bedoel het in haar voorlegging toe sy verwys het na die lang ampstermyne van SAID-werknemers, oor die Drakensberg Seunskoor begin praat. “Die Drakensberg Seunskoor is in 1867 op die been gebring en in 2018 word meisies steeds nie toegelaat om te sing nie.”

Tydens die SAUK-onderhoud het sy onder meer gesê dat inkontraktering by die SAID nodig was om beurse aan werknemers se kinders te gee. Sy het ook in ʼn stadium vir die onderhoudvoerder gevra: “Mevrou, kan jy my beskerming bied teen jouself?”

Volgens Sibeko tree Makhekhe-Mokhuane se skorsing onmiddellik in werking. Sy is die vyfde bestuurslid van die SAID om voornemend geskors te word. ʼn Bepaling in hierdie verband sal slegs gemaak word ná afhandeling van die proses.

“Die SAID versoek dat die privaatheid van die betrokke individue en die vertroulikheid van die verhouding tussen werkgewer en werknemer gerespekteer word. Die SAID sal nie verder kommentaar lewer oor die aangeleentheid voordat dit afgehandel is nie.”

Die vier ander geskorste bestuurslede is Hlengani Mathebula, hoof van korporatiewe beheer, internasionale betrekkinge, strategie en kommunikasie, Teboho Mokoena, hoof van mensekapitaal en -ontwikkeling, Luther Lebelo, hoof van werknemerbetrekkinge, en Refiloe Mokoena, regshoof van die SAID.

“Dit is deel van ʼn deurlopende en omvattende oorsig van die hele SAID-leierskap deur die kommissaris ten opsigte van onder meer goeie bestuur na aanleiding van die Nugent-verslag,” het Sibeko gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Thinus

Seker nie ‘n bevoegdheidstoets geslaag nie.

Veer

Dis skokkend! Wys jou net hoe bevoeg is hulle OF nie! Klink soos ‘n sirkus! Néé, dalk beledig ek nou die sirkus!

Schalla

Geskors pleks van afgedank?

Wurmpie

Ja geskors want hul moet salaris ontvang terwyl hul niks doen

Suzette Geringer

Seker geskors en kry nog steeds ‘n vet salaris. Darem maar lekker in hierdie land…