SAID veroordeel berigte oor eFiling wat ‘in duie stort’

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het Woensdag berigte, dat sy eFiling-stelsel op die randjie van ineenstorting is, ontken.

Dit volg ná SAID-beampte Andre Rabie Dinsdag ʼn waarskuwing uitgereik het dat die eFiling-stelsel binne die volgende twee jaar in duie sal stort tensy dringende maatreëls ingestel word om Barry Hore, wat aan die hoof was van die IT-stelsel genaamd “Modernisation”, te herroep.

Rabie het vandeesweek voor regter Robert Nugent se kommissie van ondersoek na belastingadministrasie en -bestuur deur die SAID getuig. Na bewering sal dit ongeveer R1 miljard kos om die SAID se IT-infrastruktuur op te knap ná die moderniseringsprogram in 2014 skielik opgeskort is toe geskorste kommissaris Tom Moyane aan die stuur was.

Die inkomstediens sê egter die opvatting wat geskep is dat die eFiling-stelsel in duie gaan stort, is verkeerd en dit het “ongelukkig tot onnodige paniek en onsekerheid gelei”.

“Die SAID wil belastingbetalers verseker dat die eFiling-stelsel stabiel is en binne spesifikasie presteer. Dit is duidelik uit die stelsel se aanlyn koers van 99.7%. Altesaam 3.3 miljoen belastingopgawes is reeds verwerk, waarvan 50.4% deur eFiling gedoen is. Dié platform hanteer daagliks ʼn gemiddeld van 25 000 belastingopgawes,” het die ontvanger van inkomste in ʼn verklaring gesê.

“Die bekommernis wat uitvoerende hoofde by die SAID uitgespreek het voor die kommissie van ondersoek, hou verband met die stelsel se werkverrigting teen 2020. Die bekommernis hou dus verband met toekomstige risiko en is nie ʼn teken van die huidige kapasiteit, funksionaliteit of stabiliteit van die SAID se stelsels nie.”

Die SAID het gesê eFiling is steeds een van sy verkose kanale om opgawes in te dien en het die vermoë om groot volumes te hanteer. Die inkomstediens het belastingbetalers aangemoedig om steeds die eFiling-stelsel te gebruik en opgawes voor die sperdatum van 31 Oktober 2018 in te dien.

Maroela Media het vroeër berig die tussentydse verslag van die kommissie beveel aan dat pres. Cyril Ramaphosa verseker dat die geskorste kommissaris Tom Monyane onmiddellik van sy amp onthef en ʼn plaasvervanger in sy plek aangestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adriaan ·

Ek glo daar is n noue verwantskap tussen die heftigheid van die ontkenning deur die regering van n bewering en die waarskynlikheid dat die bewering later as waar bewys word.

Hansie Slim ·

Pas my eFiling afgehandel en dit werk darem…nog. Dit sal ‘n ramp wees as dit in duie stort. SAID kan vergeet, ek doen dit nooit weer op die ou manier nie!
Tom Mojane kry jou ry. Jy maak SAID ‘n groot gemors!! Nie eers jou pelle vertou jou nie.

Rita ·

Dis n wonder efiling het nie al lankal in duie gestort nie! Sowat van frustrasie om maandeliks die lbs en uif van werknemers op efiling te doen om nie eers van die twee keer per jaar te praat wat die irp 5’s gedoen moet word nie. Elke nou en dan word daar veranderings aan die stelsel gemaak. Glad nie userfriendly nie. Geen wonder ek is so bles nie; elke keer trek ek boste van my hare uit van frustrasie!

Anton ·

Daar gaan mos nou n nuwe belasting stelsel in werking gestel word nl. Expropriation without compensation. Dis nou waar jy werk en die staat vat dan al jou besittings. SARS gaan dan werkloos wees. Hoekom nog worry oor e-filing?

Pieterd ·

Boonop gebruik dit ‘n verouderde internet blaaier wat nie behoorlik met Windows 10 versoenbaar is nie!

Priscilla ·

Terwyl als so in duie stort…..is daar iemand wat asseblief kan verduidelik hoekom hernuwing en uitreiking van bestuurslisensies so lank neem? Volgens Lesedi Verkeersafdeling staak die mense al van Julie maand af.

HPV ·

Sodra dit onder beheer van die anc is sal dit beslis in duie stort, die land is ‘n sprekende voorbeeld daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.