SAID verskerp optrede teen smokkelhandel

Foto: Verskaf.

Amper R5 miljoen se Viagra, R38 miljoen se dwelms, R11 miljoen se sigarette en R1,8 miljoen se drank.

Dít is maar net ʼn deel van die R891 miljoen se goedere waarop doeanebeamptes binne net drie maande beslag gelê het.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het pas die statistieke vir beslagleggings van 1 Julie tot 20 September vanjaar bekend gemaak. Dit sluit in:

  • Dwelms: 152 beslagleggings ter waarde van R38 711 220.
  • Sigarette: 43 beslagleggings ter waarde van R11 178 022.
  • CITES (onder meer bedreigde spesies soos perlemoen): 10 beslagleggings ter waarde van R198 355.
  • Valuta: Drie beslagleggings ter waarde van R18 654 734.
  • Viagra/generiese viagra: 20 beslagleggings ter waarde van R4 842 200.
  • Nagemaakte klere, skoene en ander ware: 417 beslagleggings ter waarde van R766 212 803.
  • Kleredrag en linneware (tweedehands en ander oortredings): 118 beslagleggings ter waarde van R1 219 118.
  • Drank: 96  beslagleggings ter waarde van R1 847 132.

Die SAID sê die waarde van die goedere waarop hulle beslag gelê het, is sowat 18% meer as die R755 miljoen in die ooreenstemmende tydperk ʼn jaar gelede, toe hulle 1 776 optredes uitgevoer het, vergeleke met die jongste kwartaal se 2 499.

Dié diens bly hulle toespits op die handel in onwettige klere en materiaal, brandstof en  tabakprodukte. Beamptes het meer as 30 instellings landwyd besoek wat daarvan verdink word dat hulle onwettige tabakprodukte verkoop, sowel as klere en materiaal, om hulle vir belastingoortredings te ondersoek.

Van die groot deurbrake wat doeanebeamptes die afgelope drie maande gemaak het, was:

  • Kokaïen ter waarde van R4,8 miljoen is op 31 Julie op pad van Suid-Afrika na die VK op die OR Tambo-lughawe onderskep.
  • Beslag is op 20 Augustus by die Lebombo-grenspos gelê op heroïen ter waarde van R4,4 miljoen onderweg van Mosambiek na Suid-Afrika.
  • Op 25 Julie is op die OR Tambo-lughawe beslag gelê op generiese viagra ter waarde van R300 000 wat op pad was van Doebai na Suid-Afrika, op 6 Augustus is soortgelyke middels van R2 miljoen op pad uit Ethiopië hierheen onderskep en op 31 Augustus R2,5 miljoen sʼn onderweg van Hongkong af, ook op OR Tambo.
  • Op 21 Julie het beamptes by Beitbrug afgekom op amper 800 000 onwettige sigarette en ses dae later op Upington in die Noord-Kaap op een miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alida ·

Niemand kon my nog ooit antwoord op my vraag of die gemors daar en dan vernietig word of verwissel dit net van hande.

A ·

@Alida. Ons boek die goed in ons Ware houses in en dit word vernietig sodra die saak afgehandel is. SARS is baie streng op hul ware houses.

A ·

@Marous. Ja SARS in Customs gedeelte het nou ‘n honde eenheid en glo my ons kry baie meer suksesse as wat die SAPS kan kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.