SAID verwelkom uitspraak oor ‘geheime eenheid’

Die hooggeregshof In Pretoria. (Foto: Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het die hooggeregshof in Pretoria se tersydestelling van die inspekteur-generaal van intelligensie (IGI) se verslag oor die ʼn sogenaamde geheime eenheid by die SAID verwelkom.

Regter Sulet Potteril het Maandag die IGI se verslag getiteld “Report on Investigation into Media Allegations against the Special Operations Unit and/or Other Branches of the State Security Agency” ter syde gestel. Dié verslag is in 2014 bekendgestel. Sy het die IGI en die minister van staatsveiligheid ook beveel om Johan van Loggerenberg se koste vir die aansoek te betaal.

Van Loggerenberg, Ivan Pillay en Andries Janse van Rensburg is jare lank daarvan beskuldig dat hulle deel was van ʼn geheime ondersoekeenheid by die SAID. Die eenheid is glo onder leiding van die destydse SAID-hoof Pravin Gordhan op die been gebring. Gordhan is deesdae die minister van openbare ondernemings.

Die mans is ook daarvan beskuldig dat hulle in 2007 meeluisterapparaat in die hoofkantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Silverton, Pretoria, geplant het. Hulle is aangekla van oortredings van die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie, beter bekend as die Rica-wetgewing, asook korrupsie.

In Februarie vanjaar het die NVG die klagte teen hulle laat vaar.

Ivan Pillay en Johan van Loggerenberg tydens ‘n vorige hofverskyning. Die NVG het die klagte teen hulle vroeër vanjaar laat vaar. (Foto: ANA)

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, sê die hof het die siening dat die insamel van intelligensie op die vlak wat die inkomstediens dit gedoen het nie verkeerd is nie, bevestig.

Kieswetter het ook deurlopend volgehou daar is geen bewyse van ʼn geïnstitusionaliseerde geheime eenheid by die SAID nie.

“Ek verwelkom dus die hofbevel wat dié debat nou beëindig. Die SAID gaan voort om openbare vertroue en die integriteit van die organisasie op te bou in ooreenstemming met die aanbevelings van die Nugent-kommissie van ondersoek,” sê Kieswetter.

Dié kommissie het ondersoek ingestel na bestuursprobleme by die inkomstediens en is gelei deur afgetrede regter Robert Nugent. Sy verslag het tot verskeie skorsings en selfs die afdanking van die vorige SAID-hoof, Tom Moyane, gelei.

Van Loggerenberg se regspan het in reaksie op die uitspraak gesê hy het deurlopend in die belang van geregtigheid, die publiek, die SAID en voormalige en huidige SAID-amptenare en hul gesinne wat deur die bewering getraumatiseer en benadeel is, opgetree.

Van Loggerenberg sê die IGI-verslag was “niks anders nie as ʼn konkoksie van leuens, disinformasie, bedrieglike bewerings en die toesmeer van bewyse en feite”. Hy vra ook dat daar nou stappe gedoen word teen staatsamptenare en hul mede-samesweerders in die media- en tabakbedryf wat direk by misdade betrek is.

Van Loggerendberg sê ook diegene wat mislei is om saam te werk om die staatskaping van die SAID en ander skandelike politieke agendas te bevorder, behoort die betrokke owerhede te kontak.

“Die land het genoeg gely weens die propaganda oor ʼn valse geheime eenheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fedup ·

We have such wonderful games in this god forsaken country.
The circus and the courts should remember, adults play this game. If you don’t know the rules, don’t ever try to play.
For once, justice came in a very minuscule baggy.

Magda ·

Mooi man – nog n bewys van hulle onbevoegdheid in die ANC.

marius ·

Verskaf dan die inligting van diegene wat in PERSOONLIKE hoedanigheid vir skadevergoeding verantwoordelik gehou gaan word . Die belasting betaler is siek en sat om in te staan vir eise wat deur mala fide optrede van amptenarre veroorsaak word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.