SAID vind 1 700 name in Panama Papers

panama-papersDie Suid-Afrikaanse Inkomstediens het ongeveer 1 700 Suid-Afrikaners se name in die Panama Papers gevind.

Die Panama Papers is die resultaat van ʼn wêreldwye ondersoek deur ʼn internasionale bondgenootskap van meer as 100 mediakanale en is gegrond op miljoene dokumente wat uitgelek het en glo wys hoe politici, bekendes en van die wêreld se rykste en magtigste mense “banke, regsfirmas en buitelandse skynmaatskappye gebruik om hul bates weg te steek”.

Vlok Symington, uitvoerende beampte van die inkomstediens se produk-oorsig, regs- en beleidsafdeling, het aan drie parlementêre portefeuljekomitees gesê die SAID se ondersoekspan kon die afgelope twee weke 79 uit die 560 oorsese maatskappye verbind met SAID-data en het 81 Suid-Afrikaners hieraan verbind.

“Dié getal sal waarskynlik verhoog terwyl die ondersoek voortduur,” het hy gesê.

Symington het gesê die 81 Suid-Afrikaners wat met die oorsese maatskappye verbind word, se rolle by die maatskappye strek van aandeelhouer tot begunstigde tot direkteur, en tot dusver wil dit voorkom of 56 as tussengangers opgetree het om die oorsese maatskappye op te rig.

Die SAID bestudeer die finansiële inligting in die Panama Papers sedert dit deur die konsortium van ondersoekende joernaliste vrygestel is. Die miljoene dokumente wat uitgelek het, word verbind met Mossack Fonseca, ʼn regsfirma in Panama wat oorsese entiteite opgerig het. Besonderhede van aandeelhouers van ongeveer 214 000 dopmaatskappye is bekend gemaak.

Symington het gesê die SAID het ʼn eenheid op die been gebring om die inligting te prosesseer, wat na verwagting ʼn lang ondersoek sal wees. Die SAID het tot dusver nie ʼn idee hoeveel geld in die verskillende transaksies betrokke is wat uiteindelik aan Suid-Afrikaners verbind kan word nie.

“Dit is nog te vroeg om die vlak van belastingontduiking te voorspel,” het hy gesê. “Ons het nog nie bedrae of enige beraming van die waarde wat in daardie bankrekeninge lê nie. Niemand weet nie.”

Symington het gesê die SAID sal inwoners toelaat om oorsese bates volgens ʼn vrywillige blootleggingsprogram bekend te maak wat oorsese beleggings en inkomste betref.

Lees alle vorige berigte oor die Panama Papers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ig ·

Oeps,n paar manne knyp nou seker dat SARS ook hulle Mauritius besoeke gaan ondersoek.

Jeanette Hanekom ·

en ek lees een kommentaar : “oeps, n paar manne knyp nou seker dat SARS ook hulle Mauritius besoeke gaan ondersoek” —– regtig? Mauritius vakansies? mmmmmm sal interessant wees met wie se geld? Hulle eie geld miskien ? Ek is soooooooo baie nuuskierig.

Leeukop ·

Hierdie mense gaan swaerder gestraf word as moordenaars want hulle vat koek en weelde uit zuma en sy uitgebreide familie se monde.

Frederik ·

Moet nie verbaas wees as Zuma se naam ook op die “Panama Papers” voorkom nie.

E ·

As die meeste RSA betrokkenis grootkoppe en maats in die regering is sal daar net AMNESTI gegee word.

Jan maak n Plan ·

Ek sal graag wil weet, hoeveel van die huidige 81 name is politici en hoeveel is hulle maatjies.

Theuns ·

Mense daar is mense wat eerlik is en dan is daar die skelms soos No1 en Kie. Die eerlike mense kyk gewoonlik wat in n land aangaan en doen dan belasting vermyding! Die skelms doen belasting ontduiking omdat hulle geld wil wegsteek. Shutleworth was n goeie voorbeeld van eersgenoemde maar sy eerlikheid het hom duur te staan gekom. R200 000 000 is dood eenvoudig by hom gevat Miskien kan Pravin Gordan ons se hoe is die geld aangewend? Het dit ook in No 1 se sak beland? Nog nooit het ek ‘n Kommunis soos No 1 wat die KAPATALISTIES DEMOKRASIE so omhels het soos Zuma nie. “Hy bly maar lus vir die kapitaal”

Marietjie ·

Ja stem saam die laggende president zuma, sy vrouens, kinders en guptas sal eerste op die lys verskyn. Dit sal interresant wees om te sien wat SARS gaan doen, aangesien zuma se vriend ook daar ingedruk was. Wat my verstom is dat ek na 7jr gedwing was om geld aan SARS terug te betaal met rente, nadat dit verskeie kere afgeskryf was (klein bedrag) maar zuma, julius en kie word nie aangekla of beslag gele op hul bates nie.

alida ·

Ons hoef nie die lys name te sien nie. Gebruik gesonde verstand en die antwoorde is daar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.