SAID waarsku oor valse ‘beslagleggings’

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Maandag gesê hy is bekommerd oor onlangse berigte van mense wat voorgee om SAID-werknemers te wees en persele van belastingbetalers binnegaan om beslag te lê op toerusting onder die dekmantel dat dit kamstig deel is van ʼn “leefstyl-oudit”.

Die SAID het gesê sy soek-en-beslagleggingsoperasies word streng beheer. Volgens die inkomstediens is die mense betrokke by hierdie misdade nié SAID-beamptes nie.

Die SAID het gesê dat hulle wel sulke operasies uitvoer om bewyse te bekom as daar redelike gronde is om nienakoming of belastingsmisdade te vermoed.

“ʼn Soek-en-beslagleggingsoperasie is wel ʼn hulpmiddel in ʼn strafregtelike ondersoek en word nie gebruik om leefstyl-oudits uit te voer nie,” het die SAID in ʼn verklaring gesê.

Die inkomstediens het gesê hulle wil die publiek die versekering gee dat dié operasies op ʼn deursigtige wyse uitgevoer word ingevolge streng wetgewing en prosedures. Die SAID het ook laat hoor dié operasies word gewoonlik uitgevoer met die hulp van ander wetstoepassingsagentskappe soos die polisie.

ʼn Soek-en-beslagleggingsoperasie wat deur SAID-beamptes uitgevoer word, vereis dat ʼn regter of ʼn landdros ʼn lasbrief moet uitreik.

Die lasbrief word volgens die SAID op redelike gronde gebaseer en moet dit duidelik maak dat bewyse waarskynlik op die spesifieke perseel aangetref sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.