SAID wil KPMG hof toe sleep

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Maandag gedreig om regstappe teen KPMG te neem omdat die firma glo die inkomstediens se reputasie skade berokken het.

Dit volg nadat die ouditeursfirma Vrydag gesê het hy herroep sy 2016-verslag oor ʼn sogenaamde “rogue”-eenheid by SAID. Die firma het sy bevindinge en aanbevelings in die verslag, wat glo gelei het tot die verwydering van verskeie senior SAID-amptenare, onttrek.

Tom Moyane, kommissaris van die SAID, het tydens ʼn mediakonferensie by sy kantore in Brooklyn, Pretoria, gesê hy glo daar is niks fout met die KPMG-verslag nie. Volgens hom het KPMG nie die hele verslag onttrek nie, maar slegs die gevolgtrekkings, bevindinge en aanbevelings. Moyane het boonop aangevoer die verslag was maar net “die oortjies van die seekoei” en dat daar genoeg “prima facie”-bewyse is van die “rogue”-eenheid se wandade.

Moyane het die firma van onetiese optrede beskuldig, onder meer omdat hulle die verslag onttrek het en nie eerste die SAID van die besluit in kennis gestel het nie

“Die firma se afskuwelike, onetiese en onprofessionele optrede laat ons met geen ander keuse nie as om regstappe in te stel vir die skade wat dit aan ons reputasie berokken het. Ons sal KPMG ook aangee by die plaaslike en internasionale regulatoriese owerhede,” het Moyane gesê. Verder wil hy die firma by die minister van finansies rapporteer sodat dit op ʼn swartlys geplaas word vir “onetiese, immorele en onwettige gedrag”.

Moyane het gesê KPMG het ʼn “pynlike poging” aangewend om die inkomstediens en sy leierskap as “onbevoeg, korrup, ondoeltreffend en betrokke by ʼn heksejag” uit te beeld. Hy het ook aangevoer daar is ʼn agenda teen die SAID, maar het erken hy het nie die naam van die persoon wat agter die komplot sit nie.

Die SAID het ontken dat die KPMG-verslag gebruik is as die basis vir dissiplinêre aksies en kriminele sake en het dié soort eise as “vals en bedrieglik” afgemaak.

KPMG Suid-Afrika het gesê die verslag oor die SAID se “rogue”-eenheid was nie polities gemotiveerd nie, maar sê hul bevindinge oor die eenheid is verkeerd geïnterpreteer.

KPMG het onder skoot gekom rakende die “SAID-verslag” waarin hy deur die SAID aangestel is om ʼn omvattende ondersoek te doen oor ʼn sogenaamde “rogue”-eenheid wat glo deur die destydse SAID-kommissaris, Pravin Gordhan, op die been gebring is.

Die ondersoek het gelei tot ʼn “verslag oor bewerings van onreëlmatighede en wangedrag”. KPMG het Vrydag gesê die bewyse in die dokumente ondersteun nie die interpretasie dat Gordhan geweet het, of moes geweet het, van die “rogue”-aard van die eenheid nie. Die maatskappy het gesê hy erken en het berou oor die uitwerking wat die verslag gehad het, en dat hy “geen politieke motivering of bedoeling gehad het om te mislei nie”.

Talle hoofde by KPMG Suid-Afrika, insluitende die maatskappy se uitvoerende hoof, het ook verlede week bedank nadat ʼn interne ondersoek bevind het die firma se werk vir veral Gupta-beheerde maatskappye het nie aan die firma se internasionale standaard voldoen nie.

KPMG het daarna aangebied om die R23 miljoen wat hy vir die werk vir die SAID ontvang het, terug te betaal, “of om ʼn donasie van dieselfde bedrag aan ʼn liefdadigheidsorganisasie oor te betaal”. Gordhan het intussen ook die onttrekking van die verslag verwelkom, maar het gesê hy sal regsadvies oor die saak inwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Eish ·

Geoktroieerde rekenmeesters sal maar soos ginekoloë ook versekering moet uitneem teen siviele eise soos wat dit nou tafel toe kom, indien dit nie reeds bestaan nie. Ek begin nou ernstig twyfel of KPMG die episode gaan oorleef en of hul die spore van Arthur Anderson gaan volg. SAID, boesem lankal nie meer vertroue in nie. Dit is nie die gevolg van KPMG nie, dit is hoogstens bydraend. Die gesloer met klein besighede se BTW terugbetalings, die afdanking van Pravin Gordham, het lankal vertroue laat sneuwel. Gupta’s se R70m eis wat so vinnig afgehandel is, vertel reeds die storie.

Eish ·

Ek verstaan ook nie Tom Monyane se redenasie nie. Hy sê die hele verslag is nie teruggetrek nie, slegs die bevindings, gevolgtrekkings en aanbevelings. Wat op deesdae aarde bly oor, die briefhoof, die opskrif en opdragomskrywing en datum?

Adriaan ·

Dit lyk asof Tom Moyane ongelukkig is oor die verslag se onttrekking omdat netjies opgestelde argumente nou plat val.

Frederik ·

Ek stem saam, Adriaan. Tom het KPMG opdrag gegee om die verslag so saam te stel, dat Gordhan gediskrediteer word, want hy (Tom) en No 1 wou van Gordhan by tesourie ontslae raak om staatskaping te vergemaklik. Tom Moyane het SAID se reputasie in die eerste plek skade berokken, nie KPMG nie.

Eish ·

Ek verstaan glad nie Tom Monyane se redenasie indien hy beweer dat die hele verslag nie teruggetrek is nie, maar slegs die bevindings, gevolgtrekkings en aanbevelings. Al wat dan oorbly is die briefhoof en datum en die opskrif en taakomskrywing ter inleiding.

marous ·

SAID moet die Guptas hof toe sleep , maar hulle laat toe dat hul bates vervreem word?

Al ·

Klink vir my dat hy eerder gefire moet word. UK tree dissipliner teen hul SA maatskappye op maar die politici hier spoeg net leuens uit.

Alida ·

Ek wens, noudat die ys gebreek is, dat ALMAL betrokke KPMG en die SAID oop kaarte speel met die publiek, die skuldiges aan die pen laat ry, en diè wat onskuldig betrek is verskoning vra. Die waarheid is maar altyd die beste. Nou gaan dit weer maande aaneen neem om die leuens en bedrog te probeer toesmeer. Begin sommer by die Guptas en jaag hulle die land uit. Hoeveel ellende en skandes wil hulle nog oor ons bring?

Bokkie ·

Dit is reg, maar sleep eers vir Zuma en Malema en die GUPTAS en dan vir KPMG. Die ander gevalle is mos nou al voor die een op die lysie gesit of mis ek dit nou? Ek voel niks vir KPMG as hulle skuldig is nie, maar kan ons asb net by ‘n punt begin in ALMAL vervolg?

Zoro ·

Ons het TOM waar is DICK en HARRY – dis lagwekkend wat dink die gomtorre van ons IK’s

Ouman ·

Dit sal baie dinge openbaar as die saak in die hof land. Die rol van SARS se bestuur en die van hulle prokureurs gaan dan bekend wees aan almal. Daar is reeds dokumente gelek waaruit dit blyk dat SARS se prokureurs aangedring het op sekere veranderings wat SARS se saak gepas het. Tom verwys na PRECCA maar hy het Makwakwa se manewales stil gehou vir almal maar terselfdertyd het hy sy trawant gewaarsku. Dit klink soos ‘n misdaad vir my. Hulle gaan mooi lyk in oranje pakkies. Kan nie glo dat KPMG nou net so laag soos die regering gedaal het nie.

Johanna Botha ·

Vat hulle hof toe dan nog meer skandes kan uit ASB !

Melt Olckers ·

Van Loggerenberg het sy boek te vroeg gepubliseer. Hy het verwys na ander omgerymthede maar agv regsadvies nie in detail ingegaan nie. Nou kan hy maar ‘n opvolg skryf, as dit ook nie te vroeg is nie. Hierdie storie is nog lank nie verby nie. Ek dink die groot storm kom nog en Tom Moyane beter skuiling soek. Soos Hlaudi gaan hy ook persoonlik aanspreeklik gehou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.