SAID wil ‘slim, moderne’ diens bou

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sê hy gaan in die toekoms veel meer steun op slim tegnologie om sy werk meer doeltreffend te doen.

Die SAID wil toenemend gebruik maak van datagedrewe insigte, rekenaars wat self leer, kunsmatige intelligensie en wil die verhouding tussen mense en stelsels beter aanwend. Hy wil ook sy werksmag bemagtig om in ʼn veranderende wêreld te funksioneer.

“Ons kan nie die mag van ʼn data- en tegnologie-bemagtigde organisasie, en die uitwerking wat dit op die toekomstige werkswêreld gaan hê, ignoreer nie,” het Edward Kieswetter, hoof van die SAID, gesê.

“Ons kan wel daarop voorberei deur doelbewus en aktief die samewerking tussen mense en kunsmatige intelligensie te bestuur. Ons gee vandag ʼn tree na die bou van ʼn slim, moderne SAID met onkreukbare integriteit wat vertrou en bewonder kan word,” het hy gesê.

Hy sê die toekomstige SAID moet kan reageer op dié nuwe wêreld terwyl hy voldoen aan die instelling se mandaat om die regering te bemagtig om ʼn vaardige staat te bou wat die welstand van alle Suid-Afrikaners verseker.

Edward Kieswetter, hoof van die SAID. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Sedert hy in Mei verlede by die SAID aangesluit het, het Kieswetter deurlopend klem geplaas op die behoefte om die instelling se tegnologiese kapasiteit te verbeter en data te gebruik om die inkomstediens te hervorm.

Kieswetter het sedertdien ook dikwels met personeel vergader en die inkomstediens se strategiese doelwitte herdefinieer. Dit het gelei tot ʼn hoëvlak interne en eksterne werwingsproses om hoogs talentvolle beroepslui en uitvoerende hoofde na die SAID te lok. Dié mense moet help om data en kunsmatige intelligensie uit die belasting- en doeaneomgewing beter aan te wend.

Die SAID se sleuteldoelwitte sluit in duidelikheid oor belastingverpligtinge, om dit makliker vir handelaars en belastingbetalers te maak om hul verpligtinge na te kom en om diegene wat dit nié nakom nie op te spoor en die wêreld vir hulle moeilik én duur te maak. Die inkomstediens is ook besig om sy stelsels te moderniseer om digitale, vaartbelynde dienste te lewer en om openbare vertroue terug te kry in die administrasie van belasting en doeane.

Die inkomstediens het reeds strategiese top-poste geadverteer om talentvolle en geesdriftige beroepslui te werf. Dit sluit in ʼn hoofdatawetenskaplike, hoof van tegnologiese innovasie, finansiële hoof, hoofverkrygingsbeampte, ʼn direkteur vir die sakeafdeling, nege streekshoofde en ʼn hoof van skakeling met belastingbetalers.

Die SAID sê hy wil graag bestaande werkers help ontwikkel om sommige van die poste van binne te vul, maar wil ook die vaardigheidspoel vergroot. Die werwingsproses word ook teen die agtergrond van transformasie en die bevordering van gelykheid gedoen, het Kieswetter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hansie slim ·

Ek glo Edward Kieswetter sal dit regmaak as hy die geleentheid gegee word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.