Saint George-hotel sluit sy deure

St George-hotel (Foto: St George-hotel/Facebook)

Die Saint George-hotel, ʼn bekende baken in Centurion, het sy deure gesluit. In ʼn brief wat deur “lede van die Saint George-hotel” geskryf is, het die hotel en konferensiesentrum reeds Maandag (7 Februarie 2022) gesluit.

“Ons is al 30 jaar lank in die bedryf en in dié tyd het ons ʼn ongelooflike verhouding gebou met kliënte en diensverskaffers. Onlangse uitdagings, insluitend die Covid-19-pandemie, beurtkrag en algemene diensleweringsprobleme, het ons onderneming onder erge druk geplaas. Ons moes alle alternatiewe oorweeg om lewensvatbaar te bly,” lui die skrywe.

Die onderneming is onlangs genader om ʼn ooreenkoms aan te gaan om “ʼn groot verandering toe te laat” vir die gebruik van die hotel en konferensiesentrum.

“Ons het die moeilike besluit geneem dat dit tyd is vir ons om terug te staan en toe te laat dat die eiendom behoorlik aangewend word tot sy volle potensiaal.”

St George-hotel (Foto: St George-hotel/Facebook)

Die hotel het aangedui dat hy met persone, wat ʼn bespreking by die hotel gemaak het, sal kontak maak om hul funksie na ʼn ander geskikte venue te skuif of enige deposito terug te betaal.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir almal se bydrae om deel te wees van die Saint George-hotel-familie en lojale ondersteuning nie. Ons is vol hoop en opgewonde dat die nalatenskap van die Saint George-hotel sal voortleef deur die planne wat die nuwe eienaars in gedagte het.”

Volgens die hotel se webwerf het hulle verskeie funksies gehou, “van gala-aande vir die staatspresident, korporatiewe funksies, skemerkelkie-partytjies en toekenningsaande”. Die hotel het verlede jaar opslae gemaak toe lede van die MKMVA glo die minister van verdediging Thandi Modise, die minister in die presidensie Mondli Gungubele en adjunkminister van verdediging Thabang Makwetla gyselaar gehou het. Dit het gevolg ná ʼn onderonsie met die veterane.

Die hotel was ook ʼn gewilde venue vir ANC-NUK-vergaderings tydens Jacob Zuma se presidensie.

Buiten die politieke drama wat met die hotel verbind word, het talle mense die hotel, met sy 270 slaapkamers, gereeld besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Ek kan verstaan dat wit besighede moet seerkry en toemaak en bankrot speel as gevolg van inperking en radikale ekonomiese transformasie. Dis seker maar deel van die ewige “straf” vir apartheid. Maar as al die ANC se lekkerkry oor die “val” van wit besighede nou oor is, weet hulle dan dat die swart werkers van daardie gewese wit besighede net so werkloos is soos die gehate gewese wit besigheidseienaars? Hoe dan nou? Hoe sorg die ANC dan so swak vir hulle eie ras?

twaalfboor ·

Want volgens die anc moet ALMAL ñ graad he en alle swart persone moet besigheids eienaars wees. Anders is hulle onderdruk.

George ·

Gewonder hoelank dit gaan vat voor ras inkom, maar dan in dieselfde asem blaas die blankes stoom as ras in sport net genoem word.

Wielspore ·

Na my mening het Saint George-hotel se inkomste gekom uit my en jou se belasting geld wat die ANC en ANC regering betaal het vir luukse byeenkomste en konferensies. Dit was Jacob Zuma en sy kaders se uithangplek waar hy mense onthaal het met luukshede en eksotiese disse.
Die sluiting van die hotel het geen impak op die gemiddelde landsburger.

Mallie ·

Sterkte vir julle almal voorentoe. Dis eintlik baie jammer.

fs ·

ek is nou jammer maar my simpatie is min… hul het die ANC sous trein goed gery… nou is die kraantjies van Zuma toegedraai en kry hul swaar en maak dus toe… ag siestog…gana vra vir die dodelik siek Zoompie om te help.. die ANC kan nie eers salarisse betaal wat nog vir super duur funksies .. karma is ‘n bogger…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.