Sake teen Malema: Hof genader om in te gryp

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum. (Foto: Christel Cornelissen)

Die burgerregtegroep AfriForum gaan die hof nader met ʼn aansoek om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te dwing om te besluit oor die vervolging van EFF-leier Julius Malema op verskeie aanklagte teen hom.

Van die sake waarby Malema betrek word, sluit in die beweerde korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering, Malema se beweerde aanranding van ’n polisieman, asook die afvuur van skote met ’n aanvalsgeweer.

“Ons het besluit om die NVG te dwing om ʼn besluit te neem. Die versuim om besluite oor vervolging te neem, verlam die strafregstelsel en beteken geregtigheid kan nie geskied nie,” het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, Woensdag gesê.

“Ons het die NVG kennis gegee dat ons stappe gaan doen om hom te dwing om sy werk te doen.”

Kallie Kriel, hoof van AfriForum, het gesê dit is ʼn hartseer dag as die burgerlike samelewing die vervolgingsgesag moet dwing om sy werk te doen.

On-Point Engineering

AfriForum sê hy het reeds in April verlede jaar gevra dat die NVG die saak teen Malema oor die beweerde korrupte bedrywighede by die maatskappy On‑Point Engineering herinstel. On-Point, waarby Malema se familietrust ʼn belang het, is vroeër aangestel om die departement van paaie en vervoer in Limpopo te ondersteun met infrastruktuurontwikkeling, -onderhoud en ‑beplanning.

Die maatskappy het glo omkoopgeld van suksesvolle tenderaars ontvang.

Nel het gesê die NVG het vantevore al beslis dat daar wél ʼn saak is, maar dat geen stappe nog gedoen is sedert die saak van die rol geskrap is nie. Hy het gesê die NVG kan ook nie geldige redes gee oor waarom die saak nog nie weer op die rol geplaas is nie.

EFF-leier, Julius Malema. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Beweerde aanranding van ʼn polisielid

Nog ʼn voorval waar die NVG glo sy voete sleep om ʼn besluit oor vervolging te neem, is Malema (en EFF-woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi) se beweerde aanranding van ʼn polisieoffisier. Die beweerde aanranding, in April verlede jaar, is op kringtelevisie opgeneem en het voor verskeie senior polisiebeamptes én senior weermaglede plaasgevind. Die polisielid was in uniform geklee en aan diens.

Die polisielid het na die voorval ʼn saak teen Malema aanhanging gemaak, maar AfriForum het gesê dit het geen aandag gekry tot sy privaatvervolgingseenheid in Januarie vanjaar daaroor navraag begin doen het nie.

Nel het gesê in dié geval het die polisiedossier boonop voete gekry en moes dit van voor af saamgestel word.

Die NVG reageer ook nie op navrae oor wat sy besluit in dié saak is nie.

Afvuur van skote

AfriForum het in Augustus verlede jaar ook ʼn klagte by die polisie teen Malema ingedien, nadat hy by die EFF se verjaardagvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap skote met ʼn aanvalsgeweer gevuur het.

ʼn Video van die skietery het soos ʼn veldbrand versprei.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê Malema se optrede het boonop ʼn rimpeleffek op sy ondersteuners wat hom nadoen. Hy het gesê mense dink moontlik hulle kan met dié optrede wegkom, omdat Malema nie daarvoor vervolg word nie.

Cameron het gesê elf maande nadat die saak teen Malema aanhangig gemaak is, lyk dit asof geen vordering nog met die saak gemaak is nie.

Kriel het gesê Malema word nie noodwendig uitgesonder oor wie hy is nie, en dat die sake teen hom meer sê oor sy eie optrede, as oor enige besluite van AfriForum om hom te laat vervolg.

“Dit gaan nie oor Malema as persoon nie, dit gaan daaroor dat hy glo hy is verhewe bo die reg. Ons wil gelykheid voor die reg verseker. Ons teiken hom weens sy eie optrede,” het Kriel gesê.

Fokus op NVG

Nel het gesê die organisasie sal nie huiwer om die hof met ʼn mandamus-aansoek (ʼn bevel wat van die hof gevra word om iemand te dwing om te doen wat hy kragtens wet verplig is om te doen) te nader nie.

“Die NVG moet verstaan dat ons ernstig oor dié sake is,” het Nel gesê.

Kriel het gesê as die NVG nie bereid is om Malema te vervolg nie, AfriForum se privaatvervolgingseenheid die leisels sal oorneem. Volgens hom is dit ondenkbaar dat ʼn individu soos Malema met beweerde regskendings wegkom omdat die polisie en die NVG versuim om hom aan die pen te laat ry.

“As instellings (soos die NVG) wanfunksioneel is, kan jy die situasie net laat begaan, maar dan gee jy ook op oor die toekoms. Ons moet verseker dat die instellings behoorlik funksioneer.

“As hulle nie bereid is om self hulle werk te doen nie, sal ons die regstelsel gebruik om hulle te dwing om dit te doen,” het Kriel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

leser ·

dankie, afriforum dat julle aanhou om die persoon (malema) te laat betaal vir sy optredes, wat hy net oor homself gebring het
hys nie verhewe bo die wet nie

BMW ·

Moenie nog sejulle gaan dit en dit doen nie, doen dit eenvoudig want die NVG IS in elkgeval niks werd nie.

Tom ·

Dit is nie so eenvoudig nie. Daar is ‘n proses om eers ‘n nolle prosequi te kry alvorens ‘n privaat vervolging in te stel. Verder moet ‘n belang aangetoon word.

koos ·

Tyd om sake na die NVG te verwys sonder name en rasse, dat net die feite kan praat?

Taxed Todeath ·

Nou hoekom word bendes verbied om skote in die openbaar af te vuur as Malema dit mag doen? Maar, nou ja, hy is mos n politikus!!!

Jackie ·

???????? ???????? ????????
Ons is darem nou keelvol….tyd dat die ratte vinniger draai.
Dankie adv. Gerrie Nel en Afriforum.

Kobus ·

Indien die NVG wel vervolg gaan dit ‘n afgewaterde saak wees soos in die geval van Duduzane. Sal so stuk met opset verloor dan is dit mos afgehandel

Andreas ·

Ek sien elders Shamila Batohi, die nuwe hoof van die NVG, van einde verlede jaar af, sê, in die dae, hulle het nie genoeg geld nie en sal mense moet laat loop, ook het sy per ‘n ander berig gesê: “Daar kort ‘n plan om apartheid-misdadigers te vervolg, Suid-Afrika moet ’n “gekoördineerde” manier vind om oortreders uit die apartheidsjare te vervolg wat nie destyds deur die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) amnestie toegestaan is of wat nie vir amnestie aansoek gedoen het nie.”

Nou wonder ek wie het sy in gedagte, nog mense uit die ou NP bedeling, of is dit dalk om die ANC ook verantwoordbaar te hou?

Intussen gebeur daar niks betreffende Julius nie.

Andreas ·

Dit behoort nie lank te vat om ook hiér, soos met die OB, agter te kom hoé onafhanklik sy is nie.

ne ·

Mooi so Afriforum. Ek is ‘n trotse lid van julle. Doen so voort….

Dirk Breytenbach ·

Afriforum en ander Afrikaner leiers/organisasies is heeltemal in staat om hulself te verdedig en verder doen hulle NIKS wat teen die wet is nie, of wat nie in openbare belang is nie. Verder gooi hulle ook nie klip of brand af wanneer hulle ‘n saak verloor nie.
Afriforum het nog nooit sake gemaak uit weerwraak of oor politiese ideologiese redes nie en hulle handhaaf die morele hoë grond. Ek daag enigiemand uit om die teendeel te bewys. Mnr. Malema jy sal nog jou verdiende loon kry, niemand van ons is verhewe bo die wet nie, so kom asb. in lyn soos wat die meerderheid in SA probeer doen en help om ‘n beter SA vir almal te bou. Jy gaan eensaam wees want jou siening is ‘n minderheid siening en jou vriende gaan soos mis voor die son verdwyn wanneer jy allen in die hof sit. Die minimum vonnis vir ernstige bedrog is 15 jaar.

jaco ·

so wit mense wat volgens beide die ANC en die EFF nog vol rassisme en apartheid is, dink nou dat die howe, wat deur die anti-wit ANC beheer word, in hulle guns en teen die EFF sal uitspraak lewer.
kan Afriforum nie hulle geld op beter goed uitgee nie? Help eerder wit mense wat weens regstellende aksie al geruime tyd werkloos is.

Hasie ·

Ek wil graag weet van Afriforum, wat het geword van die saak teen mrs mugabe wat die meisie in die gesig geslaan het? Julle sou haar gehelp het om mrs mugabe voor stok te kry. Maroela, kan julle vir ons uitvind?

Skroef ·

Baie sterkte. Julle sal hare op julle tanne moet hê om iets uitgerig te kry. Julle private vervolging van klein zuma het op zero uitgeloop.

aj ·

Die CIC (Commander in chief) in die rooi speelpakkie gaan nooit die regsgedinge teen hom enduit deursien nie.

‘Groot vure brand vinnig uit!’

‘Rewolusie is ‘n varksog … vreet eie kleintjies!’

Johanna Botha ·

Jaco skrik wakker asb ! En NVG begin ASB mense vervolg ….daar is BAIE wat uitkom by die Zondo !

Magda ·

Dit is hoekom ek n Lid van Afriforum is, huule praat nie net nie – maar DOEN wat hulle se. Dankie Afriforum .

jakes ·

Malema sal goed aard agter tralies. Daar kan hy sy belaglike voornemens uitleef. Sal waarskynlik in die kombuis werk as n kok. Moordenaars sal sy selmaats wees. Hy sal egter moet bontstaan vir die 28 bendes. Verder sal hy goed lyk in oranje.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.