Sakeliga: Aptekersraad moet opdrag aan aptekers terugtrek

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo.

Die sakeorganisasie Sakeliga het Dinsdag daarop aangedring dat die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAAR) ’n opdrag aan sy lede dat hulle steun vir die Nasionale Gesondheidsversekering- (NGV-)skema moet belowe, terugtrek.

Sakeliga se brief aan die SAAR kom nadat lede Maandag 15 Oktober briewe van Amos Masango, registrateur en uitvoerende hoof van die SAAR, begin ontvang het. Die briewe gelas die lede bloot “Please complete the attachment to this e-mail with the words: ‘I, as a Pharmacy Professional, support NHI’”, en om dit nie later nie as 25 Oktober aan Masango terug te stuur.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die briewe beteken dat ondernemings en beroepslui in die farmaseutiese bedryf gedwing word om politieke verbintenisse en bekentenisse te maak. “Dit is onaanvaarbaar dat ’n statutêre liggaam met ’n monopolie om toetrede tot die farmaseutiese bedryf te reguleer, rekord hou van die politieke oortuigings en verbintenisse van sy lede.”

Le Roux sê as die SAAR regtig die menings van sy lede wil inwin, moet hy dit anoniem doen. “Die feit dat die SAAR van sy lede vereis om hulself in hierdie proses te identifiseer, skep die redelike verwagting dat die SAAR hierdie inligting in die toekoms vir onredelike en moreel onaanvaarbare doeleindes kan gebruik.”

Hy sê die presedent wat hier deur die SAAR geskep word, hou ernstige bedreigings in vir die vryhede en regte van sakeondernemings en beroepslui in enige bedryf. Daarom het Sakeliga by Masango daarop aangedring dat die SAAR sy opdrag aan lede terugtrek. In dié brief bevraagteken Le Roux die SAAR se onpartydigheid en waarsku Masango teen die komplikasies indien die SAAR sou weier om sy opdrag terug te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

HEVW ·

Hul skiet huself in die voet. Watter vertroue kan gestel word in n saak wat hul op so n onderduimse wyse voorbrand maak . Die genepenheid om die ngv te laat realiseer spreek duidelik hier kom iets wat geensins vir ons goed is nie. Hier is vuilspel in oorvloed. hier is meer getuienisse as genoeg dat hier n ramp onderweg is, maar die skedels bly maar net dig.

goodluckmasango ·

Dis maar net nog n vorm van boelie. Ek is self n apteker wat die epos gekry het en ek weier om dit te steun. SAAR nog altyd die taktiek gebruik. Kamstig veronderstel om Aptekers en die publiek te beskerm. Teen wat wonder ek?

Apteker ·

Ek het ook gister die epos gekry. Kon maar net my kop skud. Ek is al 18 jaar ‘n apteker en betaal elke jaar my SAAR fooi. Weet nogsteeds nie waarvoor nie.

Bossie ·

Het hierdie Amos my kind se studies betaal! Wie gee hom die reg? Gemeenskapsjaar word reeds in aptekers ens. se kele afgedruk. Die kind was verplig om vir ‘n jaar in baie onveilige omstandighede te werk en ons het ons vrek gestres. Daar is gedoen wat onregverdig vereis is maar dit is nou KLAAR. Niemand se veiligheid kan gewaarborg word nie. Dan word hul vir ewig voorgesê waar om te werk en waar nie. Oor my dooie liggaam. Voer enige ander land se mense in om in die haglike plekke verniet te gaan werk. Ander lande sal ons kinders opraap. Hulle hoef nie in Suid-Afrika te bly nie. Gelukkig is aptekers ook baie intelligent en weier hul om dit te teken. Volgende word ingenieurs, prokureurs ens. verplig om vir die Staat te werk om al die gemors reg te maak. Al ons besittings kan gevat word maar leer eerder nou-al dat ONS NIE BESIT SAL WORD NIE. En nou moet ek eerder verder stilbly wanneer ek in hoofletters begin tik!

Ook ‘ n Apteker ·

Het ook die e-pos ontvang, en dadelik gedink om ‘n streep daardeur te trek en so terug te stuur, Is egter nie die moeite werd om my bloeddruk op te jaag nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.