Sakeliga begin regstappe oor diensverval by munisipaliteit

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Verskaf)

Sakeliga en sy plaaslike vennote het met regstappe teen die regering begin oor die voortslepende verval van die Enoch Mgijima-munisipaliteit in die Oos-Kaap.

Volgens Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, het dienslewering en infrastruktuur in dié munisipaliteit geheel en al ineengestort, terwyl die munisipaliteit byna R1 miljard aan Eskom verskuldig is. Queenstown en ander geraakte dorpe word boonop gereeld aan onluste onderwerp, soos op 26 en 27 Januarie 2023 toe 2 000 inwoners die sakekern in Komani tot stilstand gedwing het.

“Die litigasie beoog om tussentydse verligting vir ondernemings en inwoners van Queenstown en ander geraakte dorpe te verseker, terwyl blywende regspraak ontwikkel word vir meer uitgebreide toesig en ingrepe,” het Le Roux gesê.

“Hoewel die verval by die Enoch Mgijima-munisipaliteit met ander ineengestorte munisipaliteite ooreenstem, bied hierdie saak ’n duidelike en paslik feitelike grondslag vir strategiese litigasie. Die saak word nou deel van Sakeliga se litigasiestrategie oor munisipale ineenstorting, waardeur ons onderling ondersteunende uitsprake vestig. Sodoende kan aanspreeklikheid waar moontlik verhoog word en terselfdertyd staatsbestande, gemeenskapsgebaseerde oplossings verder aanhelp.”

Le Roux verduidelik dat die munisipaliteit “totaal ineengestort” het, ondanks die feit dat dit sedert 6 April 2022 onder nasionale administrasie ingevolge artikel 139(7) van die Grondwet geplaas is. Dit is die hoogste vlak van regeringsingryping waarvoor die Grondwet voorsiening maak.

“Nietemin het die haglike situasie in die dorpe wat deur die munisipaliteit bedien word, nie verbeter nie. Die munisipaliteit skuld Eskom nagenoeg R1 miljard, terwyl geld vir dienslewering vir stygende loonrekeninge aangewend word. Dienslewering en infrastruktuur het feitlik in duie gestort ondanks debiteurrekeninge wat ophoop.

“Sakeliga en sy vennote weet dat hofbevele wat die nasionale regering se ingrepe in munisipaliteite versnel, onvoldoende sal wees om orde en voorspoed te herstel. Die staat het sy onvermoë om enige herstel te bewerkstellig, herhaaldelik bewys.”

Le Roux sê Sakeliga se litigasie, hier en elders, neem die nienakoming van hofbevele deur nasionale en ander vlakke van die regering in ag. Die litigasie behels voorbereiding vir opeenvolgende én gelyklopende hofaansoeke, wat telkens regtelike bevestiging vir, en die beskerming van direkte ingrepe deur sakegemeenskappe, onder die hof se toesig uitbrei.

“Terwyl die litigasie wat ons nou in Enoch Mgijima begin, soos elders, poog om dringende tussentydse verligting te verskaf, moet ons beklemtoon dat litigasie kompleks is en dikwels vertraag word. Benewens om so gou moontlik dringende verligting te bring, voorsien ons dat die verdere strategiese doelwitte, naamlik groter erkenning van toesig en ingryping deur die sakegemeenskap slegs geleidelik met verloop van tyd bereik sal word.”

In samewerking met hul vennote, die Border-Kei Chamber of Business: Komani en CRAEM (Civic and Ratepayers Association of Enoch Mgijima), het Sakeliga nou die regering skriftelik aangemaan dat die regering, veral die minister van finansies, die volgende doen:

  • die munisipale raad van Enoch Mgijima ontbind;
  • die munisipale finansiële herstelplan wat deur die minister van finansies goedgekeur is, onmiddellik in werking stel en sorg dat dit spoedig uitgevoer word;
  • in te stem tot voortgesette en betekenisvolle skakeling met Sakeliga en andere oor die herstel van die munisipaliteit en die uitvoer van die munisipale finansiële herstelplan.

“Sakeliga se betrokkenheid by Enoch Mgijima vorm deel van ons groter litigasiestrategie om stapsgewys ’n regsraamwerk te skep waarbinne sakegemeenskappe toesig kan hou en kan ingryp om orde en welvaart in hul plaaslike ekonomieë te herstel. Ons beskou dit as ’n deurslaggewende en dringende poging in die belang van plaaslike gemeenskappe en ’n stabiele samelewing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.