Sakeliga bekom interdik teen Eskom oor kragonderbrekings

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Die sakeorganisasie Sakeliga het ’n interdik teen Eskom bekom wat die kragreus verbied om Musina se elektrisiteitvoorsiening weens die wanbetaling van die dorp se plaaslike munisipaliteit te onderbreek.

Dié dringende aansoek is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria in Sakeliga se guns beslis en sal geldig bly tot Sakeliga se hersieningsaansoek voor die hof dien. Dit sal dan uiteindelik die regsbeginsels vestig vir die hantering van toekomstige kragonderbrekings wat in soortgelyke gevalle deur Eskom beoog word.

“Wat ’n hersieningsaansoek só belangrik maak, is dat dit uiteindelik ’n nasionale oplossing kan bied vir gemeenskappe wat weens wanbetalende munisipaliteite benadeel word. Tans is meer as dertig dorpe op Eskom se webtuiste gelys wat nes Musina kragonderbrekings in die gesig staar,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Ons kan egter nie toelaat dat betalende elektrisiteitsverbruikers se krag afgesny word net omdat een arm van die staat, ’n plaaslike munisipaliteit, nie sy rekeninge aan ’n ander arm van die staat, Eskom, betaal nie. Sakeliga se hersieningsaansoek gaan dié toetssaak wees wat uiteindelik ook op nasionale vlak in belang van plaaslike gemeenskappe en plaaslike ekonomieë toegepas kan word.”

Sakeliga het intussen ’n ondersteuningsblad op sy webtuiste beskikbaar gestel waar gemeenskapslede van dorpe wat deur soortgelyke probleme geteister word, die komende hofsaak teen Eskom oor kragonderbrekings kan steun.

Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het onlangs by die parlement verslag gelewer dat munisipale skuld aan Eskom vanjaar in ses maande van R13,6 miljard tot R17 miljard toegeneem het.

Dit is reeds die vierde keer vanjaar dat Sakeliga en Eskom in regsaksie teen mekaar betrokke is. ’n Hofdatum vir Sakeliga se hersieningsaansoek moet nog bekom word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

In die ou dae was die burgemeesters en stadsklerke van die meeste dorpe gewone ouens wat die take so in die sylyn gedoen het want die salarisse by munispaliteite was eina-eina. Deesdae kry hulle so baie geld dat hulle min tyd kry om die werk te doen want die geld moet seker tog bestee word en die malls roep… soos die nuwe dwaasheid, Black Friday wat glo sommer al vandag al afskop… Gaan koop tog al die ou stock mense, want die vars voorrade le in die store en wag vir volgende week se uitpak… en al die nuwe modes vir die somer…

Snowball ·

Bietjie geregtigheid vir die betalende elektrisiteitsverbruiker!! Die verkwisters sit in die munisiplaiteite, waarom word mense wat betaal gestraf? Lekker Eksdom! Kry vir julle!

Werknemer ·

Het enige iemand wat so teen afsny van krag van munisipaliteite is al vir een oomblik daaraan gedink dat as Eskom nie meer geld het om die kragstasies aan die gang te hou nie byna 40000 mense werkloos gaan wees om nie eers te praat van land se ekonomie nie. Regering most voorafbetaal meters verpligtend mask.

Geregtigheid ·

Die probleem is dat munisipaliteite nie hulle EKSDOM skuld betaal nie. Die geld raak weg reeds voor dit by EKSDOM uitkom. Kyk na hulle salarisse. Dis skrikwekkend.

Andre ·

Daar moet gekyk word of die persone in beheer werklik bevoeg is vir hul werk. Die belaglik hoe salarisse en bonusse moet hersien word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.