Sakeliga beplan regsgeding oor gesondheidsregulasies

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mika Baumeister / Unsplash)

Sakeliga het Vrydag vir pres. Cyril Ramaphosa en Joe Phaahla, minister van gesondheid, in kennis gestel dat hy regstappe gaan doen om die nuwe tussentydse regulasies om die Covid-19-pandemie te bestuur ter syde te laat stel, tensy die regulasies teen 18 Mei om 12:00 herroep word.

Die regering het hierdie nuwe regulasies verlede Woensdag kort voor middernag – en net voor die bestaande regulasies sou verval – aangekondig.

In ’n brief wat Sakeliga se prokureurs Vrydag gestuur het, word Ramaphosa en Phaahla versoek om samesprekings met Sakeliga te voer of andersins die regulasies teen 12:00 op 18 Mei te herroep.

Indien hulle versuim, sal Sakeliga ’n formele regsgeding aanhangig maak. In die brief word verskeie van Sakeliga se besware teen die regulasies uiteengesit.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die brief wys daarop dat Sakeliga kennis geneem het van die hofaansoeke wat reeds deur ander organisasies, waaronder AfriForum en Solidariteit, ingestel is, waarin die dringende hersiening en tersydestelling van die regulasies versoek word.

“Hoewel die bestaande applikante se onderskeie standpunte oor die regulasies geringe verskille toon, is hierdie aansoeke goed gefundeer en sal die regulasies nie konstitusionele toetsing kan deurstaan nie,” sê Le Roux.

“Indien die regulasies nie herroep word nie, sal Sakeliga se litigasie tot belangrike bykomende regsondersoeke oor die regulasies aanleiding gee, wat vir ons as ’n openbare weldaadsakeorganisasie van besondere belang is.”

Le Roux sê hierdie bykomende ondersoeke sluit Sakeliga se standpunt in dat die regulasies maatskaplike stabiliteit en samehorigheid onder beleg bring. Dít, afgesien van die skade wat veroorsaak word deur spesifieke bepalings rakende die dra van maskers, inperking van byeenkomste en dies meer.

“Elemente van die georganiseerde samelewing word omskep in uitvoerende agente van die staat deurdat die regulasies verantwoordelikheid vir die afdwing van die regulasies afwentel na organisasies in die burgerlike samelewing soos sakeondernemings, kerke en ander godsdiensgroepe, opvoedkundige instellings en dies meer.

“Afgesien van die konstitusionele ontoelaatbaarheid van hierdie verwikkeling hou dit die gevolge in dat daar ’n groot wig ingedryf word tussen enersyds lede van die publiek wat die regulasies op die een of ander wyse verwerp, en andersyds die organisasies waaruit die georganiseerde samelewing bestaan en wat nou die regulasies moet afdwing. In die geval van sakeondernemings is die risiko besonder groot, weens die frekwensie en skaal waarop hulle slagoffers van misdaad word en tydens maatskaplike onrus geteiken word.

“Die verswakking van die burgerlike samewerking wat hierdie regulasies tot gevolg kan hê, sal weer lei tot ’n strukturele verhoging in die bedryfskoste van ’n georganiseerde burgerlike samelewing in Suid-Afrika, wat die doen van sake insluit. Die gevolge hiervan sal strek tot blywende skade aan die openbare welstand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem ·

Hoekom wil Sakeliga samesprekings voer oor iets wat onwettig is in die eerste plek? Is daar dalk iets in vir Sakeliga?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.