Sakeliga gryp in vir krag aan sakeondernemings

Argieffoto (Foto: SnapwireSnaps, Pixabay)

Die sakeorganisasie Sakeliga het ’n ingrypingsplan aangekondig om elektrisiteitstoevoer na sakegemeenskappe dwars oor Suid-Afrika te herstel.

Dit sluit in interdikte om Eskom te verhoed om kragvoorsiening aan betalende eindgebruikers in wanbetalende munisipaliteite af te sny; omseiling van munisipaliteite in plaaslike elektrisiteitsverspreiding; en die voorlegging van eenvoudige, maklik implementeerbare regulasieveranderinge aan die regering.

Sakeliga se jongste stappe volg op Eskom se aankondiging dat hy kragvoorsiening aan eindgebruikers in verskeie plaaslike munisipaliteite landwyd gaan afsny as gevolg van munisipaliteite se wanbetaling, asook die ongekende landwye kragonderbrekings die afgelope week.

“In 2019 het ons voorkom of gehelp voorkom dat elektrisiteitvoorsiening aan betalende kliënte in Musina, Witbank, Koster, Swartruggens en verskeie ander dorpe afgesny word,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Ons gaan nou ons bedrywighede na ander munisipaliteite uitbrei. Ons gaan ook stappe doen om te voorkom dat wanbetalende munisipaliteite elektrisiteitsgeld in die hande kry en wanaanwend. En ons gaan maklik implementeerbare regulasiesveranderinge wat die voorsiening en verspreiding van elektrisiteit deur die private sektor moontlik sal maak, aan die regering voorlê.”

Le Roux sê Sakeliga gaan Eskom nader met die oog op samewerking. “Ons sal ’n uitnodiging aan Eskom rig om ons beplande ingrypings te bespreek en moontlik optrede te koördineer. Dit is in sowel ons onderlinge as die openbare belang om verdere wanaanwending van elektrisiteitbetalings, wat vir Eskom bedoel is, deur hierdie ineenstortende munisipaliteite te voorkom.”

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo

Die kern van die saak, sê Le Roux, is dat die ekonomie teen mislukkende staatsorgane beskerm moet word.

“Die ekonomie is te belangrik om aan politici oorgelaat te word. Hoe meer staatsbestand elke plaaslike ekonomie en die ekonomie as geheel is, hoe beter vir almal. Hoewel sakeondernemings altyd bereid moet wees om in openbare belang in vennootskap met owerhede te werk, is dit nou in openbare belang om nie langer vir staatshervorming te wag nie.

“Dit is inderdaad nou sakeondernemings se verantwoordelikheid om self die leiding te neem in ekonomiese hervorming.”

Sakeliga se regspan is besig om geskikte munisipaliteite te identifiseer om die voorgestelde ingrypings te implementeer.

“Ons rig ’n uitnodiging aan sakeverteenwoordigers in munisipaliteite wat gevaar loop dat hul elektrisiteitsvoorsiening afgesny kan word as gevolg van munisipale wanbetaling, om Sakeliga vir bystand te nader,” sê Le Roux.

“Op grond van die advies van ons regspan sal ons dan elke geval evalueer en die betrokke sakegemeenskappe dienooreenkomstig bystaan of adviseer. Gebiede met Sakeliga-geaffilieerde sakekamers sal voorkeur geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oom Willem

As Eskom hierdie voorstelle implementeer sal dit mos bewys dat hulle onbevoeg is en daarom sal hulle dit van die tafel afvee.

Tweetie

Ja, die Afrikaner staan altyd op in n tyd wat alles intuimel, soos destyds met die depressie toe die Nasionale Party gestig is. Hulle bou op waar daar niks oor is nie.

Koos

Is daar ‘n wettige manier om te verander vanaf prepaid meter na eskom direk betaal?

Kaaskop

Dis reg, die munisipaliteite gee voor dat hulle nie geld het om Eskom te betaal nie, want hulle is te verdomps sleg om hulle gelde in te vorder van hul inwoners. Nou moet die betalende inwoners ook daaronder lei!! Weereens WANBESTUUR!! Die goed kan nie!!!!!!!!

Dries

Die groot probleem is onwettige koppelings aan die netwerk.Dit is die probleem dat daar nie genoeg krag is vir almal.Gaan kyk maar by die plakkers kampe hoe hang die drade. Mense moet krag gebruik om te oorlede.