Sakeliga in hof oor BEE-vereistes vir sake met staat

(Foto: Arnaud Jaegers/Unsplash)

Die organisasie Sakeliga is Dinsdag in die appèlhof waar hy teen sekere nuwe swart ekonomiese bemagtigingsvereistes (BEE) in staatsverkryging sal argumenteer. Die saak hou verband met die absolute, vooraf en rasgebaseerde uitsluiting van kontrakteurs ten opsigte van verskaffing aan die staat en staatsondernemings soos Eskom.

Die organisasie sê hy verwelkom en ondersteun die aansoek van die South African Property Owners Association (SAPOA), om as amicus curiae (vriend van die hof) tot die saak toegelaat te word. SAPOA argumenteer ook teen die vooraf-uitsluitingskriteria.

Sakeliga doen by die hof aansoek om verlof tot appèl nadat die hooggeregshof in Johannesburg vroeër sy appèlaansoek daaroor van die hand gewys het.

Die saak handel oor regulasies wat in 2017 kragtens die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid deur die destydse minister van finansies, Pravin Gordhan, ingestel is. Sakeliga het geappelleer teen ʼn ongunstige uitspraak in Desember 2018, waarin die regulasies gehandhaaf is.

Sakeliga sê die regulasies behels ʼn klein maar buitengewoon skadelike uitbreiding van BEE-wetgewing. Dit gee aan staatsondernemings en -instellings soos Eskom en munisipaliteite ʼn nuwe bevoegdheid, naamlik om hul eie diskresionêre en arbitrêre minimum BEE-vereistes te stel waaraan ʼn kontrakteur moet voldoen as hy net oorweeg wil word vir sake met ʼn staatsentiteit.

“Ironies genoeg is dit nou die geval dat min. Gordhan, wat hierdie regulasies in 2017 in werking gestel het, as minister van openbare ondernemings weer die vrugte daarvan pluk,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Ingevolge sy regulasies het staatsentiteite die afgelope jare dikwels voornemende kontrakteurs by voorbaat gediskwalifiseer as hulle nie 51% in swart besit is nie. Met ander woorde, hulle is van die staanspoor gediskwalifiseer selfs sonder dat hul prys- en waardeaanbod oorweeg is.”

Voor die regulasies sou staatsbeheerde instellings bloot punte aftrek vir tenders wat nie aan sekere SEB-kriteria voldoen nie. Nou mag hulle egter tenders wat nie aan arbitrêre SEB-drempels voldoen nie, vooraf diskwalifiseer, voer Sakeliga aan.

Die organisasie sê ʼn tender is steeds veronderstel om toegeken te word aan die diensverskaffer met die hoogste telling, maar net soos gekies uit die geledere van diensverskaffers wat nie vooraf op grond van ras gediskwalifiseer is nie.

“Met ander woorde, maatskappye en mense wat sou kon help om munisipaliteite, Eskom of enige ander staatsorgaan regtig te laat werk en geld spaar, is die deur gewys op grond van ras. Dit is nie ʼn kleinigheid nie. Deur kontrakteurs op grond van ras te diskwalifiseer, ontsê die staat – op ʼn kritieke tyd vir die ekonomie en die samelewing – die publiek die volle verskeidenheid kostedoeltreffende kundigheid wat op die mark beskikbaar is,” sê Le Roux.

“Op die ou einde verloor verbruikers en belastingbetalers, want die verkeerde norm word toegepas. Tenders moet toegeken word volgens waarde vir geld vir verbruikers (en belastingbetalers), nie volgens die ras van ʼn kontrakteur se aandeelhouers of die vermoë van ʼn kontrakteur om spesiale behandeling te kry nie.”

Le Roux sê Sakeliga is oortuig daarvan dat die regulasies strydig met die wet is en dat die promulgering en aanvaarding van die regulasies ongeldig verklaar en ter syde gestel moet word.

“Voorts beskou Sakeliga dit as onaanvaarbaar vir die staat en staatsbeheerde entiteite om absolute uitsluitings op grond van ras te stel vir maatskappye wat met hom wil sake doen. Ons sien daarna uit om ons saak in die hof te stel en die openbare belang te dien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Klomp rassiste is al wat hier in S.A in beheer is en oorlog spreek.

Hendrik

Hierdie saak is uiters belangrik virdie hele ekonomie. Talle van die ondernemings sukkel geweldig om te groei en dus om nuwe werk te skep wat uiters noodsaaklik is vir die ekonomie. Nou is al die aandag op die Clicks fiasko waar al die aandag eintlik op hierdie saak moet wees.

Persheks

BEE werk nie! Wanneer gaan hulle dit verstaan? Genade die regering neuk alles op. Stel mense aan wat eintlik weet wat aan gaan en kyk verby die verdomde vel kleur

Heinrich

Maak nie saak wat die uitkoms van hierdie saak gaan wees nie, wanneer familie en vriende eers gehelp is sal hulle in elk geval ‘n nie-amptelike benadering van geen wittes volg.

Adam Adriaan

Die ANC/EFF laat apartheid lyk soos in kindertuin soos wat hulle nou rasisme pleeg.