Sakeliga ondersteun Business for Ending Lockdown

Die sakegroep Sakeliga het gesê hy is trots om ʼn stigtersondertekenaar van die Business for Ending Lockdown-veldtog te wees.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die beëindiging van die afsonderingsperiode is die enigste manier om te herstel van die ontvouende humanitêre ramp. “Eerstens, as besigheid wil ons nie ʼn verandering in vlakke, of meer kommissies, of meer uitsonderings hê nie. Ons wil ʼn volledige hervatting van ekonomiese aktiwiteit hê, met die vryheid om gesondheidsmaatreëls te tref op grond van ons eie oordeel en die eienskappe en vereistes van ons kliënte.

“Tweedens, selfs al staan ondernemings verenig oor die beëindiging van die grendelstaat, dring die boodskap nie na die regering toe deur via Nedlac nie. Ons is nie tevrede met vandeesweek se reaksie deur die presidensie en Nedlac op die ontvouende ekonomiese krisis nie, naamlik om nog ʼn kommissie in te stel in plaas van om die grendelstaat op te hef.

“Derdens dien die veldtog om ondernemings, besighede en individuele sakelui, wat bereid is om standpunt in te neem, te verbind en te koördineer. Dit gee besighede en die publiek die selfvertroue van gesamentlike optrede en versterk die spontane verwerping van die grendelstaat – en sy irrasionele en skadelike regulasies – wat reeds landswyd toeneem.”

Sakeliga moedig alle sake-organisasies aan om hul stem by die veldtog te voeg en sal sy lede ook vra om hul individuele ondersteuning te gee. Sakeliga verteenwoordig meer as 20 000 besighede en sakelui en verskeie sakekamers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Gaan ons ooit standpunt in neem kom ons hou op kla en doen wat ons moet doen. Die kommuniste lag vir ons wat gaan hulle doen ons almal in die tronk sit dit wil ek nog sien. Kom ons staan saam mense ons kan dit doen tyd vir praat is nou klaar ons moet doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.