Sakeliga pak Eskom om dorpe se krag aan te hou

Argieffoto: GCIS

Die sakeorganisasie Sakeliga en Eskom sien mekaar op 20 November in die hof oor elektrisiteitsonderbrekings in plaaslike gemeenskappe.

Sakeliga beoog om met hierdie regsaksie beginsels neer te lê wat Eskom verhoed om, net omdat ’n plaaslike owerheid se rekeninge by Eskom agterstallig is, betalende gebruikers in daardie munisipaliteite se elektrisiteitsvoorsiening te onderbreek.

In die jongste geding, die vierde vanjaar, hervat Sakeliga sy regsaksie teen Eskom in Musina, nadat die Musina- plaaslike munisipaliteit nogmaals vanjaar in gebreke gebly het om die nodige gelde aan Eskom oor te betaal. Die aksie volg ná ’n kennisgewing deur Eskom op 2 November in Musina se plaaslike media dat die kragvoorsiener beoog om vanaf 19 November elektrisiteitvoorsiening aan Musina te onderbreek.

“Sakeliga kan nie toelaat dat betalende elektrisiteitsverbruikers se krag afgesny word net omdat een arm van die staat, ’n plaaslike munisipaliteit, nie sy rekeninge aan ’n ander arm van die staat, Eskom, betaal nie,” verduidelik Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “’n Ekonomiese katastrofe is besig om in plaaslike gemeenskappe te ontvou en boonop gaan plaaslike sakelui groot koste aan om die kragonderbrekings te stop. Sakeliga tree daarom met hierdie toetssaak in Musina toe in belang van plaaslike gemeenskappe en plaaslike ekonomieë landswyd.”

Sakeliga het intussen ’n ondersteuningsblad op sy webtuiste beskikbaar gestel waar gemeenskapslede van dorpe wat deur soortgelyke probleme geraak word, die hofsaak teen Eskom oor kragonderbrekings kan steun.

Le Roux wys op die omvang van die probleem: “Meer as 20 dorpe verskyn tans op Eskom se lys vir beplande kragonderbrekings. En vandeesweek nog het Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, by die parlement verslag gelewer dat munisipale skuld aan Eskom vanjaar in ses maande van R13,6 miljard tot R17 miljard toegeneem het. Hierdie is ’n landswye krisis, en om die krag van plaaslike ekonomieë af te skakel, gaan nie die probleem oplos nie. Daarom tree Sakeliga toe om die nodige beginsels te vestig om ’n algemene, werkbare oplossing te vind.”

In sy jongste hofstukke versoek Sakeliga die hof om ’n dringende interdik toe te staan wat:

  • Verklaar dat Eskom se besluit om elektrisiteit na Musina te onderbreek ongrondwetlik, onwettig en ongeldig is;
  • Eskom se besluit tersyde stel;
  • Verklaar dat Eskom en die Musina- plaaslike munisipaliteit nie hul verpligtinge nagekom het nie om die geskil oor skuld by te lê ooreenkomstig die Grondwet, die Wet op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge (2005), die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur (2003), en die Wet op Elektrisiteitsregulering (2006);
  • Gelas dat die respondente saamwerk om die probleem op te los ooreenkomstig die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur, welke respondente insluit nie net Eskom en die Musina- plaaslike munisipaliteit nie, maar ook Nersa, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die minister van finansies, die lid van die uitvoerende komitee vir plaaslike regering in die Limpopo-provinsie en die lid van die uitvoerende komitee vir finansies in die Limpopo-provinsie; en
  • Eskom verbied om kragonderbrekings te gebruik om die Musina- plaaslike munisipaliteit te dwing om sy agterstallige skuld aan Eskom te betaal.

Dit is reeds die vierde keer vanjaar dat Sakeliga en Eskom in regsaksie teen mekaar betrokke is.

  • In Mei vanjaar het Sakeliga gehelp om te keer dat Eskom elektrisiteitvoorsiening aan die Kgetlengrivier-munisipaliteit onderbreek.
  • In Julie vanjaar het Eskom, in die aanloop tot ’n dringende interdikaansoek deur Sakeliga, ’n betalingsooreenkoms met die Musina- plaaslike munisipaliteit aangegaan.
  • In Augustus het Sakeliga, as amicus curiae in die geding tussen Resilient Properties e.a. v Eskom e.a., unieke regsbydraes gelewer oor die beginsels wat behoort te geld vir Eskom wanneer hy skuld van plaaslike munisipaliteite probeer invorder.

“Eskom se besluit om elektrisiteitvoorsiening aan Musina en ander plaaslike munisipaliteite te onderbreek is onaanvaarbaar,” voeg Le Roux by. “Dit is vir Eskom ’n gerieflike illusie om te maak asof munisipaliteite eenvoudig sy klante is en dat dit derhalwe by magte is om elektrisiteitvoorsiening aan munisipaliteite met agterstallige skuld te onderbreek. In werklikheid is hierdie entiteite almal verskillende bene van die staat en onderhewig aan statutêre bepalings oor geskilbeslegting, al ignoreer Eskom dié bepalings gerieflikheidshalwe. Natuurlik moet munisipaliteite hul rekeninge aan Eskom betaal, maar ons voer aan dat betalende eindgebruikers nie belas kan word met interne koördinasieprobleme tussen verskillende vertakkings van die staat nie.”

Klik hier vir Sakeliga se hofstukke (betooghoofde en beëdigde verklaring).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

zoom zoom ·

Dit is nie reg Om net die blaam op Eskom Te Pak nie. Dit is tyd dat die burgermeester en Sy handlangers in die Hof moet staan en verduidelik hoekom hulle nie Eskom betaal vir Sy dienste nie.

Stephan de S ·

Dis Eskom se verantwoordelikheid om die burgermeester en sy trawante in die hof te kry….zoom zoom.

Alma Greyling ·

Skakel tog net bedags straatligte af.
Elke dorp en stad in Suid Afrika se straat ligte brand…. VIR WAT?
Bedags het ons nie straatligte nodig nie. In Springs brand dit dag in en dag uit…jaar in en jaar uit. Waar is die munisipale besparing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.