Sakeliga se lakmoestoets vir Mboweni-begroting

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer die 2018 mediumtermynbegrotingsraamwerk in die parlement (24 Oktober 2018). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

“Die lakmoestoets vir Tito Mboweni, minister van finansies, se eerste volledige begroting is of dit staatsbesteding wesenlik inkort.”

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, is drastiese besnoeiings aan staatsbesteding, gepaardgaande met planne vir die privatisering van staatsbeheerde ondernemings, die enigste wyse waarop die fiskale krisis afgeweer kan word en die private sektor genoeg hulpbronne vir ware ekonomiese groei kan bekom.

Mboweni lewer Woensdag sy begrotingsrede. “Ons beramings dui daarop dat ’n dringende vermindering van die begrotingstekort, tot onder R100 miljard, nodig is op pad na ’n gebalanseerde begroting soos wat laas in 2008 gesien is,” sê Le Roux.

“Dit beteken dat verdere reddingsboeie vir bankrot staatsinstellings eenvoudig nie die regte stap is nie – die oplossing is dringende privatisering en besnoeiing.”

Le Roux benadruk die benarde posisie van die fiskus: “Die staat ervaar ernstige fiskale druk. Die tydelike beweegruimte wat hoë belastinginkomste in die jare voor die finansiële krisis van 2008/09 gebied het, is nou uitgeput (figuur 1).

“Selfs sonder die groot items wat nie op die regering se balansstaat ingesluit is nie, soos staatswaarborge vir staatsinstellings (soos Eskom) se skuld, het die staat in die afgelope dekade elke jaar tussen R100 miljard en bykans R300 miljard se skuld aangegaan (figuur 2).

“Om die fiskale krisis af te bestuur sal mnr. Mboweni ’n plan moet voorlê om die begrotingstekort tot ten minste onder R100 miljard per jaar te bring – dit wil sê tot pre-2012-vlakke.

“Toe Mboweni sy amp verlede jaar aanvaar het, het Sakeliga vyf vrae geïdentifiseer aan die hand waarvan die begroting beoordeel kan word. Met die byvoeging van ’n sesde, is dit steeds vir ons kritieke vrae om te vra,” sê Le Roux.

Die vrae wat Sakeliga geïdentifiseer het, sluit in:

  1. Is daar enige openlike erkenning van die onvolhoubaarheid van die begrotingstekort en ’n geloofwaardige, beduidende plan om dit in die volgende fiskale jaar ten minste tot minder as R100 miljard te verminder?
  2. Gaan daar belastingverhogings of -verligting wees? Hoe meer belasting, hoe minder kans op ekonomiese groei.
  3. Is daar ’n konserwatiewe verwagting ten opsigte van belastinginkomste en ’n erkenning dat plaaslike en internasionale ekonomiese kragte kan meebring dat inkomstevoorspellings die voorsienbare toekoms te optimisties kan wees?
  4. Word ’n wesenlike mate van privatisering van staatsbeheerde ondernemings beoog, in plaas van finansiële reddingsboeie wat slegs tydelike gate toestop?
  5. Dui die begroting daarop dat die Ramaphosa-administrasie oor die bereidwilligheid beskik om die grootte en omvang van die staat te verklein?
  6. Is die regering bereid om, in die lig van die benarde fiskale situasie, ten minste te wag voordat hulle ander skadelike staatsinmengingsplanne implementeer, wat groot besteding vereis en omvattende risiko’s vir die publiek en sakelui inhou (soos die voorgestelde nasionale gesondheidsversekeringskema, verpligte beleggings vir pensioenfondse, die nasionalisering van die Reserwebank, die oprigting van ʼn staatsbank, en dies meer).

Figuur 1: Aanwyser van Suid-Afrikaanse fiskale stres 

Figuur 2: Aanwyser van Suid-Afrikaanse nasionale begrotingstekort

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jerry ·

Die lakmoestoets is heeltemal te westers en kapitalisties vir die denke van n sosialis. Mboweni sal goed doen om nie die toets te druip nie!

Nugter ·

Ek is net nugter as ek sê, dit maak nie saak wat mr Mboweni vandag voorstel om SA te red nie, die anc aanhangers gaan alle positiewe voorstelle war hulle enigsins raak, toi-toi, klippe in paaie pak, slote in paaie grawe, geboue afbreek en brand.
Ongekukkig is hierdie stelling van my die waarheid,

Judge Dredd ·

Hoe dan nou?
FW en die kenners het altyd gese hoe bankrot Apartheid ons gelaat het – maar as ek na die grafiek kyk dan is Botha(toe sanksies op sy ergste was) – SA se tekorte beter as die FW/Mandela oorgangsjare en die Zuma jare, met slegs die Mbeki era wat beter vertoon.

Laksman ·

Inkomstebelasting, aksynsbelasting, BTW, heffings op petrol, hereregte, boedelbelasting, suikerbelasting, invoerbelasting en so kan ek aangaan! As jy twee jaar werk, werk jy een jaar net vir belasting! Doen jou sommetjies en kyk maar self!

John ·

Ja, ongelukkig is dit so, te meer omdat die ANC-kiesers die ANC bloots ry en hul eise baseer op die beloftes vanaf die die grondlegging van die party x die aard van Afrikane x slinkse spel van die glo liberale helpers x die finansièle kamma-steun van die buiteland. Soveel energie om rotse op paaie te lè en vir ure te skree en toi in die warm son, maar een uur se fluks wees om die ekonomie te groei, nee. Kyk maar wie sal die pak moet vat na vanmiddag. En die jaar het nog rampe op sy pad wat reeds deur die regering beloof is.

Grassie ·

Die peoples sal hulle nie veel aan punte 1,2 en 3 op die sakeliga se lys steur nie. As die Ramaphosa-regime egter probeer om punte 4 en/of 5 in te stel sal dit tot onmiddellike landswye stakings met gepaardgaande optredes lei, aangevuur deur die vakbonde, die Zuma-faksie en radikale flentergroepe. Die regering sal dit nie waag nie want as hulle Cosatu se steun verloor gaan hulle klippe kou in die verkiesing.
Ek glo nie daar is veel salf te smeer aan ons land se probleme nie. Dit lyk vir my al meer of totale anargie ons voorland is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.