Sakeliga skep aanlyn platform vir noodsaaklike dienste

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die sakeorganisasie Sakeliga het ’n aanlyn platform bekend gestel wat noodsaaklike dienste gedurende die algehele landwye afsondering lys. Dit is om verwarring onder verbruikers uit te skakel oor watter produkte en dienste gedurende dié tyd toegelaat word. Ondernemings wat noodsaaklike dienste verrig, kan hulle ook op dié platform lys.

“Noodsaaklik.co.za is ’n diens wat daarop gemik is om te verseker dat noodsaaklike behoeftes so vinnig, maklik en natuurlik ook veilig moontlik bevredig kan word,” verduidelik Daniel du Plessis, bestuurder van Sakeliga se Sakeplein-platform.

Volgens Du Plessis is die platform van stapel gestuur weens verwarring onder verbruikers oor watter dienste beskikbaar is gedurende afsondering. Hy meen die verwarring kan toegeskryf word aan die regulasies wat breed, vaag en teenstrydig opgestel is. “Dan is daar ook natuurlik die feit dat staatsregulasies vir die gewone burger taamlik ontoeganklik is,” verduidelik hy.

“Dit is belangrik dat verbruikers besef daar is steeds heelwat produkte en dienste wat in hierdie tyd gelewer mag word,” meen Du Plessis. Dit sluit dienste in soos noodsaaklike instandhouding van riolering en watertoevoer.

Ander ondernemings wat hulle reeds op die platform gelys het, sluit in private sekuriteitsdienste, masker- en handreinigervervaardigers, radiostasies en verskaffers van noodsaaklike insette vir die landboubedryf. Sakeliga het ook ’n algemene uitnodiging gerig aan enige noodsaaklike ondernemings om hulle op die platform te lys.

Aansoekers se status sal eers nagegaan word om te bevestig dat hulle wel noodsaaklike dienste lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.