Sakeliga vergader met minister oor regulasies

(Foto: Henk Kruger/ANA)

Die organisasie Sakeliga vergader vroegoggend al met die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, oor die verslapping van afsonderingsregulasies.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig die streng maatreëls wat tot dusver tydens die staat van landwye afsondering geheers het, word van 1 Mei geleidelik verminder. Die president het gesê belangegroepe sal ook ʼn kans gegun word om hul insette oor die proses te gee.

Suid-Afrika skuif volgende week na vlak 4 van die vyf sogenaamde koronavirusvlakke, wat beteken sommige aktiwiteite word toegelaat, hoewel uiters streng voorsorgmaatreëls om die oordrag van Covid-19 te beperk steeds sal geld.

Sakeliga het verlede week ʼn ultimatum aan Patel gestel oor die departement se beweerde onwettige, skadelike en arbitrêre inmenging met kosproduksie. Die organisasie sê hoewel dit gepas is vir Ramaphosa om aan te kondig dat daar gesprekke oor die regulatoriese veranderinge gaan wees, dring Sakeliga ook daarop aan dat gesprek gevoer word oor die inperkingsraamwerk self.

Ebrahim Patel. (Foto: Twitter)

Sakeliga sê dit is problematies dat Ramaphosa se raamwerk steeds die posisie handhaaf dat alles outomaties verbode is, tensy die regering dit toelaat. In hierdie situasie word kernaspekte van konstitusionaliteit nie eerbiedig nie – soos die oppergesag van die reg en die skeiding van magte. Dit maak van die regering die sentrale besluitnemer vir alle ekonomiese aktiwiteite – ʼn haas onmoontlike taak.

Die organisasie vergader om 10:00 met Patel. Sakeliga sal dan aanvoer dat die onderskeid tussen noodsaaklike en nienoodsaaklike dienste in die ekonomie arbitrêr, onbepaalbaar en skadelik is – veral omdat daar beter alternatiewe bestaan.

“Ons sal aan die regering voorstel dat baie meer bereik kan word deur duidelik riskante aktiwiteite en gedrag te identifiseer en veiligheidsvereistes daar te stel – sonder om sekere ekonomiese sektore of die produkte wat vervaardig, verkoop en versprei mag word, te beperk,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Ander kwessies wat geopper gaan word, sluit in:

  • Die bereidwilligheid van sakeondernemings om weg van risiko af te innoveer
  • Die onregmatigheid en skade van die CIPC-sertifikasieproses
  • Die onbillike behandeling wat restaurante en ander kosprodusente in die gesig staar wanneer hulle weerhou word om te doen wat talle kleinhandelaars doen – insluitend maar nie beperk tot die voorbereiding en gaarmaak van kos en die verkoop daarvan nadat dit afgekoel het nie
  • Die heropening van e-handel
  • Die terugtrek van onlangse mededingingsregulasies wat verskaffers en verbruikers se vermoë beperk om aan te pas by veranderinge in vraag en aanbod
  • Die afwesigheid van regulatoriese liggame soos die aktekantoor
  • Die oopstel van grense vir alle invoer en uitvoer.

“Ons word bemoedig deur min. Patel se uiteindelike reaksie en bereidwilligheid om met ons te vergader. Gegewe die ekonomiese krisis wat ons in die gesig staar, is oplossings dringend nodig. Hoewel ons litigasie sou wou vermy, indien moontlik, sou ʼn ontoereikende uitslag in hierdie vergadering dit noodsaak,” sê Le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Eintlik het die president die lockdown indirek verleng.Geen tydlyne,geen planne.Sy hoofdoelwit is om 1000 lewens te spaar maar 57miljoen mense gaan eersdaags nie kos op die tafel kan sit nie.Dan moet die privaat sektor (lees wit monopolie kapitaliste) tot almal se redding kom.

Johann ·

Miskien as julle Beznezz Alijins was en nie Sakeliga nie? Blank …Afrikaans? Anders as betaal en bekhou is ons raad nie welkom in n kern korrupte magsbehepte ANC nie.

Grassie ·

Daardie foto het my nou baie lus gemaak vir so ‘n gebraaide hoender maar ou Sarafina het besluit ons mag nie warm kos koop nie. Dit is sekerlik ‘n manier om ‘n goeie man die moe….ekskuus tog, die swernoot in te maak.

Niklaas ·

In hierdie tye is ek baie bly dat ek nie ‘n roker of groot drinker is nie. Ek ken talle wat bitter swaar kry nou.

Sonneblom23 ·

Ek is van die begin af ten gunste van die lockdown MAAR hoekom mag klere winkels net klere aan sekere ouderdoms groepe verkoop?? Gaan n kind van 4 jaar nie net so koud kry soos n baba van 4 maande nie? Hoe moet ons, ons kinders gesond hou as ons nie vir hul mag wintersklere koop nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.