Sakeliga waarsku Eskom oor ‘strafkrag’

Diegene wat deur die lasvermindering geraak word, is dikwels boere en klein ondernemings in landelike gebiede. (Argieffoto)

Eskom volg die “weg van minste weerstand” deur betalende eindgebruikers aan kragonderbrekings onder die vaandel van lasvermindering te onderwerp, eerder as om onwettige aansluitings op toevoerlyne daadwerklik te verwyder.

Dít volgens die organisasie Sakeliga wat in ʼn aanmaningsbrief aan Eskom eis dat hy binne tien dae skriftelik onderneem om alle voorgenome oudits op geïdentifiseerde toevoerlyne binne drie maande af te handel.

“Eskom moet ook binne tien dae onderneem dat strafkrag onmiddellik gestaak sal word en dat hangende die afhandeling van die oudits, lasvermindering slegs volgens wetlike voorskrifte geïmplementeer sal word. In besonder mag lasvermindering nooit ʼn werklike staking van elektrisiteitstoevoer behels nie,” sê Tian Alberts, regs- en skakelbeampte van Sakeliga.

Sakeliga werk saam met Agri Noordwes en TLU SA om lede van die drie organisasies in Noordwes en Limpopo te help om die onwettige inwerkingstelling van lasvermindering stop te sit. Diegene wat geraak word, is meestal boere en klein ondernemings in landelike gebiede.

Met lasvermindering, wat onderskei moet word van die nasionale beurtkragprogram, staak Eskom kragtoevoer op toevoerlyne vir ure aaneen. Dit word volgens die kragvoorsiener gedoen om te keer dat die netwerk in hoëdigtheidsgebiede, waar daar talle onwettige aansluitings is, oorlaai word en skade aan netwerkinfrastruktuur aangerig word.

Sakeliga sê Eskom tree onwettig op deur elektrisiteitstoevoer op geteikende lyne heeltemal te staak en in baie gevalle nie redelike vooraf-kennisgewing daaroor te gee nie.

Maroela Media het onlangs berig inwoners van onder meer Marken in Limpopo, wat boonop getrou betaal vir krag, sit daagliks tot agt uur lank sonder krag weens lasvermindering. Ook boere in die Waterberg-streek naby Lephalale in Limpopo is bekommerd dat dié gebruik hul produksie heeltemal kan pootjie en groot finansiële verliese kan veroorsaak. In hierdie stadium word krag tussen vier en ses uur per dag op die netwerklyn afgeskakel, selfs al betaal ook dié boere getrou hul kragrekeninge.

Sakeliga, Agri Noord-Wes en TLU SA sê dit is gereeld landbouplase en kleiner organisasies, wat nie binne hoëdigtheidgebiede val nie, wat aan voortdurende onderbrekings onderwerp word.

Eskom sê nou al maande lank dat lasvermindering net ʼn tydelike maatreël is totdat ʼn oudit op geïdentifiseerde toevoerlyne gedoen word sodat netwerkverliese tot ʼn aanvaarbare vlak verminder kan word.

Die organisasies sê dit lyk egter nie of die voorgenome oudits gedoen is soos Eskom vooraf met boere ooreengekom het nie. Dit lyk ook nie of Eskom beplan om lasvermindering binnekort te staak nie.

“Eskom se optrede in hierdie verband is onaanvaarbaar, sowel as onwettig, en moet teen erkende regsbeginsels getoets word. Sakeliga het in die onlangse verlede suksesvol regstappe teen Eskom gedoen, juis weens die ongegronde benadeling van betalende eindgebruikers. Dit word nou weer nodig om regstappe teen Eskom te doen,” sê Alberts.

Hy sê indien Eskom nie die nodige ondernemings gee nie, sal Sakeliga hom tot die hooggeregshof wend. Die organisasie het ook ʼn beroep gedoen op sakelui en ander mense wat lasvermindering ondervind, om dit by Sakeliga aan te meld vir oorweging in enige moontlike toekomstige regstappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann ·

Hou op om te verwys na ESKOM. Name and shame. Vat die persoon of persone aan wat díe besluite neem en deurvoer.

krodedil ·

De Ruyter is die Ceo en is verantwoordelik vir alles wat in Eskom gebeur. Dis hoe dit in al die ander maatskappye werk.

Henry ·

Dit is die wonderlike regering wat ons het in die anc. Hulle het alles opgemors vanaf 1994. Wanneer gaan die bevolking ophou om vir hulle te stem??

domheks ·

te onnosel. kry ‘n themp en pakkie kos – dan stem almal cANCer!

Di ·

Daar is DUISENDE indien nie MILJOENE onwettige kragverbindings! DIS die rede hoekom hierdie beurtkrag NOOIT sal einde kry. Al word meer krag voorsien gaan nie nie lank wees dan sit ons WEER in dieselfde bootjie. TRONKSTRAF vir die skuldiges wat onwettige konneksie het, dis AL wanneer dit dalk sal stop

Wondermaarnet ·

Daar is te min tronke, want daar sal nie duisende nie, maar miljoene mense toegesluit word. Gaan kyk in Soweto, Katlahong, Sebokeng, Du Noon, Langa, Gugulethu, Khayelitsha om net ‘n paar plekke te noem.

Wondermaarnet ·

Ek stem saam. Ek betaal vir my kruideniersware en neem dit huistoe en het die gebruik daarvan 24/7. Ek koop krag vooruit en het nie 24/7 gebruik daarvan nie. Dit is mos onregverdig.

Catantho ·

Slim van Sakeliga. Boender die onwettiges uit, eens en vir altyd!

Papsak ·

Hulle sien die anc doen niks vir niemand of die land nie druk ons net dieper in die gemors in maar nee wat stem bly hulle stem vir die anc stem die gemors uit

SjN ·

Ek het mos n kotrak met Eskom tov basiese kostes ivm lynhuur, transformator en prys per eenheid wat ek gebruik, soms is daar nie beskikbaar om te gebruik soos benodig, wat nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.