Sakeliga weer vriend van hof in saak teen Eskom

(Argieffoto)

Die organisasie Sakeliga staan die hoogste hof van appèl Donderdag en Vrydag as vriend van die hof (amicus curiae) by met die doel om te verhoed dat Eskom betalende kliënte in verkwistende munisipaliteite se elektrisiteit afskakel.

Maroela Media het vroeër berig Sakeliga het in Augustus 2018 aansoek gedoen om as ’n vriend van die hof gevoeg te word in die saak tussen Resilient Properties en ander teen Eskom en die eMalahleni-munisipaliteit.

Die organisasie het Donderdag in ʼn verklaring gesê die saak word nou weer in die hof aangehoor nadat Eskom appèl aangeteken het teen die hof se vroeëre beslissing in die saak. Die hof het verlede jaar teen die kragvoorsiener se gebruik om wanbetalende munisipaliteite se elektrisiteit in geheel te onderbreek en dus elektrisiteitstoevoer van betalende eindgebruikers onregmatig te weerhou, beslis.

Ingevolge dié uitspraak mag Eskom (as staatsentiteit) nie die elektrisiteit na ʼn wanbetalende munisipaliteit (ook ʼn staatsentiteit) onderbreek tensy hy al sy remedies soos vervat in artikel 41 en 42 van die Wet op die Raamwerk vir Tussenregeringsverhoudings van 2005 uitgeput het nie.

“Die oorspronklike uitspraak het verreikende gevolge gehad vir alle geskille tussen staatsorgane en kan plaaslike sakegemeenskappe miljoene rande se regskoste teen Eskom bespaar, indien dit gehandhaaf word,” sê Sakeliga nou in ʼn verklaring.

“Die saak het aansienlike implikasies, nie net vir elektrisiteitsvoorsiening in Suid-Afrika nie, maar ook vir die verhouding tussen staatsorgane in die algemeen. Sakeliga is betrokke as deel van sy groter strategie om elektrisiteitstoevoer na ondernemings, waarvan die elektrisiteitsrekeninge nie agterstallig is nie, in plaaslike bankrot munisipaliteite wat in wanbestuur en korrupsie verwikkel is, te verseker.”

Luidens die verklaring het die hof in sy uitspraak vroeër gesê Sakeliga se argumente as amicus curiae was deurslaggewend om ’n bevel teen Eskom te bekom. Die hof het Sakeliga geprys vir sy “oorspronklike” en “beslissende” argumente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.