Sakeliga wil BLF-geld vir eiendomsbeskerming gebruik

Armand Greyling. Foto: Sakeliga

Sakeliga eis R68 000 in regskoste van Black First Land First (BLF) ingevolge ʼn kostebevel.

Dié sakeorganisasie wil die geld wat hy hoop om ingevolge die bevel te kry, aanwend om sy Grondgryp 911-platform, wat vandag bekendgestel word, te finansier.

Die kostebevel teen die BLF spruit uit ’n interdik wat in Sakeliga se guns toegestaan is, sê Armand Greyling, die organisasie se regs- en beleidsanalis, toe die hooggeregshof in Pretoria die BLF en sy leiers, Andile Mngxitama en Zanele Lwana, verlede jaar verbied het om die publiek tot grondgrype aan te hits.

Die BLF moet besef hul dade hou gevolge in.

“Organisasies soos die BLF, wat onwettige en onverantwoordelike uitlatings en gedrag teenoor die publiek openbaar, moet besef daar is gevolge vir hulle dade,” sê Greyling.

“Soos onlangs weer is dit duidelik dat die BLF en Mngxitama geen agting vir eiendom, die integriteit en waardigheid van ander mense, of selfs die regsorde self het nie. Daarom sal ons die geld wat ons van hulle verhaal, terugploeg in die beskerming van eiendomsregte en ’n konstitusionele orde.”

In Sakeliga se skrywe aan die BLF dring die sakeorganisasie daarop aan dat die BLF die getakseerde kostebevel van R68 303,45 binne 14 dae betaal. As die BLF weier of nalaat om die geld aan Sakeliga oor te betaal, sal die organisasie oorgaan om beslaglegging op bates te laat doen.

Indien geen sodanige bates beskikbaar is nie, sal Sakeliga beslag laat lê op geld van die organisasie en sy leierskorps, sê Greyling.

Grondgryp 911 is ’n platform om grondbesettings te help stuit. Sakeliga stel die platform vandag vir openbare gebruik beskikbaar.

Grondgryp 911 bemagtig grondeienaars met inligting, regshulp, en eiendomsrekords vanaf die landmeter-generaal, ten einde voor te berei of op te tree teen onwettige grondbesetters, sê Greyling.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die organisasie wil sakelui en gemeenskappe bystaan om sélf teen grondgrype op te tree omdat die regering in gebreke bly om dit te stop.

Eiendomsreg in Suid-Afrika verkeer onder druk.

Piet le Roux. Foto: Sakeliga

“Eiendomsreg in Suid-Afrika verkeer onder druk,” sê Le Roux. “Die ANC en die EFF se pogings om die Grondwet te wysig om ‘wettige’ onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, skep onredelike verwagtinge en dus ’n teelaarde vir onwettige optrede.

“Boonop moedig [die EFF-leier] Julius Malema en ander radikale en randfigure soos Andile Mngxitama van die BLF sommer openlik onwettige grondbesettings aan.

“Nieteenstaande herhaaldelike versekerings deur pres. [Cyril] Ramaphosa – dat die regering nie onwettige grondbesettings, oftewel grondgrype, sal toelaat nie – het dit in 2018 gereeld gebeur.

“Daar is ongelukkig rede om te vermoed dat grondgrype in 2019 sal toeneem, tensy sakelui en gemeenskappe ’n stokkie daarvoor steek.”

Le Roux sê grondgrype is ongelukkig aansteeklik. “Onwettige grondbesettings is nie tot landbougrond beperk nie; dit vind dikwels juis in stedelike gebiede, insluitende sakegebiede, plaas.

“As grondgrype op een plek in die land gebeur, en nie afgeweer word nie, moedig dit grondgrype en wetteloosheid elders aan. Daarom is dit in die openbare belang om grondgrype, waar ook al dit plaasvind, in die kiem te smoor.”

Gebruikers van die platform kry toegang tot die dienste van Hurter Spies Prokureurs, met wie Sakeliga skakel om grondgrype te stuit. Ter beskerming van die regsorde het Hurter Spies Prokureurs aangedui dat hulle slagoffers van grondbesettings wat bereid is om ’n skenking van R300 per maand of meer aan Sakeliga te doen – en so lid van Sakeliga te word – met regskoste tegemoet sal kom.

“Na verwagting sal dringende interdikte teen grondbesetters in sulke gevalle teen sowat R30 000, advokatekoste ingesluit, bekom kan word, eerder as die R50 000 of meer wat dit normaalweg sou beloop,” sê Le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

leser ·

kom vat maar, maar dra die gevolge ook
vir elke aksie is daar ‘n teenoor gelyke reaksie

MarieM ·

Hulle het mos gespog hulle het klaar R200 000, sal dan nie ‘n probleem wees om die bedrag te betaal nie.

Jacques ·

Gebruik eerder daai geld om vir ons ons eie weermag op te bou want ons gaan dit nodig kry

Andre ·

Is daar erens meer nuus oor die vroulike advokaat wat by die hof in die hysbak deur blf lede aangerand is net omdat sy wit is ??

RG ·

So, ek moet:
– belasting betaal
– Munisipale dienste betaal
– Erf belasting betaal
– Regskoste van R30,000.00 om my eiendom terug te kry wat ek regmatig besit mits ek gelukkig is
– R300pm aan Sakeliga
– Bydrae tot Afriforum vir al hul hofsake
– Bydrae tot Solidariteit vir al hul hofsake

Ek sien.

Iemand is van lotjie getik en dis nie ek nie.
Ek pak ook nou my tasse, koebaai SA Sanatorium en al die regslui wat so ryk word uit al DIE hofsake.

Geregtigheid ·

Mooi so Sakeliga. Hoekom het julle so lank gewag om hulle te roer???

GP ·

Ek stem ook vir die eie weermag idee. Daar is al heelwat mense en organisasies wat onteiening in die hof beveg, waar ons beste kans waarskynlik is, maar ons moet ook begin om n “back up” plan in plek te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.