Sakeliga wil implikasies van Eskom-beslissing oorweeg

Argieffoto: GCIS

Sakeliga neem kennis van die onlangse beslissing deur die BBSEB-kommissie oor ’n multimiljardrandkontrak wat deur Eskom toegeken is. In sy bevinding beveel die kommissie aan dat ’n R4 miljard-kontrak wat Eskom aan Dongfang Electric Corporation Limited toegeken het, gekanselleer word.

Sakeliga het sy regspan opdrag gegee om die beslissing te evalueer met die oog op die breër implikasies daarvan asook enige uitwerking wat dit moontlik kan hê op hierdie sakeorganisasie se hangende litigasie om rasgebaseerde vooraf diskwalifikasie van voornemende kontrakteurs by staatsbeheerde ondernemings teen te staan.

Sakeliga is tans besig met litigasie met die departement van openbare werke om regulasies wat rasgebaseerde vooraf diskwalifikasie van voornemende kontrakteurs moontlik maak, tersyde te laat stel. Die regulasies, wat in 2017 aangeneem is, laat tans staatsbeheerde ondernemings soos Eskom toe om hulle eie diskresionêre en arbitrêre minimum SEB-vereistes te stel waaraan ’n kontrakteur moet voldoen as hy met Eskom wil sake doen. As ’n voornemende kontrakteur nie 51% in swart besit is nie, word hy in hierdie stadium dikwels vooraf deur Eskom gediskwalifiseer om werk vir hierdie staatsbeheerde onderneming te doen. Dit gebeur sonder om eers sy voorstelle te oorweeg.

“Dit is ’n praktyk wat – in ’n kritieke tyd vir die ekonomie – elektrisiteitsverbruikers in Suid-Afrika uitsluit van die volle verskeidenheid kostedoeltreffende kundigheid wat op die mark beskikbaar is,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Uiteindelik verloor verbruikers en belastingbetalers, want die verkeerde norm word toegepas. Tenders moet toegeken word volgens waarde vir geld vir verbruikers (en belastingbetalers), nie volgens die ras van ’n kontrakteur se aandeelhouers of die vermoë van ’n kontrakteur om spesiale behandeling te kry nie.”

“Die beslissing deur die BBSEB-kommissie laat ernstige vrae ontstaan oor die toepassing en impak van SEB by staatsbeheerde ondernemings. In hierdie geval toon die beslissing hoe Eskom se tenderkomitee, ten beste nalatiglik of ten ergste bedrieglik, SEB-kriteria selektief toegepas het om sommige kontrakteurs te diskwalifiseer, en terselfdertyd reëls verontagsaam het om ‘n tender aan Dongfang Electric Corporation toe te ken,” het Le Roux bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bernard Hellberg ·

Nee, dit gaan oor die beskerming van mense met spesiale behoeftes wat dit andersins nie op hulle eie kan maak in ‘n marxistiese omgewing nie????

Stephan de S ·

Wonderlike inisiatief, dankie Sakeliga. Individue is nie in staat om soiets aan te pak nie. Mag julle pogings met sukses bekroon word.

fred ·

BEE is n rassistiese doktrine wat diskrimineer op basis van ras…dit moet tog teen die grondwet wees????
Waarom vat VF+ dit nie verder nie?

John ·

Natuurlik sal die chief-bosluis net bosluise toelaat om die ou maer bees verder leeg te suig… so gedaan dat bloedoortappings gereeld benodig word. Tot die henne wat eens goue eiers kon lè se bloed word getap tot hul veerloos in ‘n hoekie koes teen die kou… met die hane klaar geslag vir die gereelde groot feeste van die beeste se sluwe base.

Anoniem ·

‘n Hartseer waarheid taalkundig so bitter mooi gestel. Dis amper soos om ‘n gedig te lees!

George in Bloem ·

Die “gravy train” stoom ongehinder voort terwyl die land in donkerte en ekonomiese agteruitgang verval. Lekker man lekker. Nou nog net die Reserwevank bykry dan loop hy EERS mooi lekker ne Ace?VIVA man.Nog ‘n VIVA comrades.Venezuela en Zim hier kom ons!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.