Sakeliga wil nuwe lewe in plaaslike, internasionale sakekamers blaas

Foto: pixabay.com

Die sakeorganisasie Sakeliga het Maandag sy strategie vir die herlewing van landswye sakekamers bekendgestel, te midde van talle krisisse in die plaaslike ekonomie.

“Sterk sakekamers staan tussen die sukses of mislukking van ʼn dorp of stad. Ons nuwe affiliasieprogram help sakekamers om hul plaaslike ekonomieë weer sterk te maak, as deel van die grootste netwerk van sakekamers wat die land nog gesien het. Minder politiek, meer besigheid is wat ons nodig het,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Hy voeg by dat Suid-Afrika se plaaslike ekonomieë in ʼn krisis verkeer, omdat slegs 19% van munisipaliteite skoon oudits verlede jaar ontvang het. “Dit is tekenend van korrupsie, onvermoë en algemene staatsverval,” meen hy.

Om die krisis op plaaslike vlak op te los, meen Le Roux, sal selfstandige sakegemeenskappe nodig wees, wat vir hulself en alle gemeenskappe waar hulle sake doen waarde toevoeg en wins maak.

Sakeliga se affiliasieprogram vir sakekamers bied ʼn nuwe sakekamerbestuurstelsel, wat onder meer sterker netwerke skep en regshulp bied.

Die affiliasieprogram vir sakekamers is die jongste in ʼn reeks uitbreidings by Sakeliga. Dit volg op die bekendstelling in Oktober van Sakeliga se nuwe digitale sakeplatform, Sakeplein, waar lede met mekaar besigheid kan doen.

“Ons affiliasieprogram respekteer die onafhanklikheid en selfstandigheid van plaaslike sakekamers. Ons doel is om ʼn sterk netwerk te bou, ondersteuning te bied, en sinergie te vind, eerder as om op plaaslike vlak by sakekamerbestuur betrokke te raak,” sê Le Roux.

Die organisasie het egter groter planne as net die grense van Suid-Afrika en sal ook Suid-Afrikaanse sakelui in ander lande nader. “Ons affiliasieprogram begin in Suid-Afrika, maar eindig nie hier nie. Daar is vandag derduisende Afrikaanse en Suid-Afrikaanse sakelui met ʼn gedeelde waarderaamwerk versprei oor die wêreld. Die affiliasieprogram behels dus ook om sakekamers in ʼn nasionale en internasionale netwerk in te skakel, sodat hul welvaartskepping, toegang tot markte en kapitaal, en bedingingskrag vermenigvuldig.

In samewerking met die Vlaamse agentskap vir internasionale handel, Flanders International Trade, bied Sakeliga ook die week ʼn internasionale handelseminaar aan. Tydens die seminaar kan sakelui meer te wete kom van sakenetwerke in Vlaandere en België, asook kwessies soos aansporings, belastingtoegewings en visumopsies vir sakelui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dirk Breytenbach

Selfwerksaamheid op alle vlakke verseker dat sakelui verantwoordelikheid neem vir hul eie ekonomiese uitkomste en welvaart. Die vyandige regulatoriese klimaat en beperkende sosiale ingenieurswese wat aan die orde van die dag is smoor alle inisiatief en beleggings terwyl SA brand. ‘n Regering was nog nooit in die moderne geskiedenis in staat om ‘n ekonomie te bou, bedryf of te laat groei nie. Regerings se plig eindig by die verskaffing van infrstruktuur en besigheidsvriendelike ekonomiese klimaat dmv sakevriendelike wette, beleide en regulasies. Dit is so jammer ons nie so ‘n regering in SA het wat die werklikhede kan insien en aangryp… Lees meer »

Kallie

Ten spyte van alles bly dit steeds moeilik om te funksioneer in die ellendige moeras. Plaaslike sakekamers kan nie owerheidsbestuur red nie. Politici is sleutelspelers. Swak politieke bestuur is ‘n probleem in stede en op die platteland.

Feite

Sakeliga volg die regte strategie met sakebelange plaaslik en buitelands en moet geensins politiese uitsprake maak of toelaat dat politici namens sakeliga praat nie, wanneer sakeliga goed op dreef is nie. Sakeliga kan nie bekostig om voordat sakebelange gevestig is deur rewolusionere politici geteiken of ingeperk te word nie!