Sakeliga wys op gevare van konsepwet oor onteiening

Foto: Sebastian Pichler/Unsplash

Die groot gevaar van die konsepwetgewing wat voorsiening wil maak vir grondonteiening sonder vergoeding is dat dit die deur vir die Nasionale Vergadering oopmaak om grondwetlike beskerming verder te verskraal.

Daniel du Plessis, ʼn regsontleder van Sakeliga, sê grondwetlike beskerming kan verder verskraal word met ʼn gewone meerderheid, in plaas van die tweedederde meerderheid soos wat dit tans in Suid-Afrika vereis word.

“Veral gegewe die nuutste tendense in grondwetlike interpretasie is dit nie duidelik dat die nuwe weergawe van art. 25 noodwendig van veel waarde sou wees nie,” voeg hy by.

Die konsepwysigingswetsontwerp is Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer en is oop vir kommentaar tot einde Januarie. Die wetsontwerp spits hom toe op wysigings spesifiek rondom eiendomsreg en onteiening sonder vergoeding.

Die uiteinde, indien dit deur die toepaslike prosesse sou gaan, sou wees dat dit moontlik sou wees om, in bepaalde omstandighede soos uiteengesit in wetgewing, geen vergoeding te betaal in die geval van onteiening nie.

Die wetswysiging volg op argumente, in veral ANC-kringe, dat onteiening sonder vergoeding reeds moontlik was in terme van bestaande grondwetlike bepalings.

Enige pogings om hierdie argumente in ʼn hof aan te voer sou, volgens kommentators, egter waarskynlik moeilik gewees het.

Maroela Media het vroeër berig dat talle politieke partye en organisasies daarteen uitgevaar het nadat die Nasionale Vergadering die grondonteieningverslag aanvaar het.

Die Nasionale Vergadering het Dinsdag die grondwetlikehersieningskomitee se verslag om die Grondwet te wysig met 209 stemme teen 91 aanvaar.

“Onteiening sonder vergoeding is ʼn kragtige instrument en dreigement in die hand van enige regering, totdat dit eindelik tog gebruik word. Dan word dit ʼn giftige kelk teen die lippe. Onthou hierdie woorde en waarskuwing,” het dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep, vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Ons sit reeds so te sè op non-reuseable trash-vlak wat big time fire hazards impliseer, maar die ANC doen verwoed voort op kakofonies-kreeuende ou spore met ‘n trein gelaai met grootse planne dat Kuba a la Ace hier sal herleef wat weelde en rydom en eer aan die ‘ware’ eienaars sal bring; verkeerd hier reg sal draai en sleg in goed.

André-Chris ·

Dit klink dan nou so al asof die NV net soos die metropolisie in Tshwane optree? Dit storm net voort met net een doel voor oë, en vir die anderkant se storie is die ore bottoe, klaar vooraf besluit, doen dit volgens opdrag. Tjoef-tjaf.

Johanna Botha ·

Sakeliga …geen tande nie …anc gaan dit ook n flop maak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.