Sakeliggaam BLSA vra Koko om uit Eskom te bedank

Matshela Koko (ANA File Photo)

Die sakeliggaam BLSA het Matshela Koko, Eskom se omstrede uitvoerende hoof van kragopwekking, versoek om te bedank ná hy Woensdag voor die parlementêre ondersoek oor wanbestuur by Eskom verskyn het.

Eskom het Koko verlede maand weer aangestel ná ʼn dissiplinêre verhoor hom van enige oortredings vrygespreek het. Hy het tereg gestaan op ses aanklagte, na bewering die versuim om ʼn konflik van belange te verklaar nadat ʼn maatskappy, Impulse International, ʼn tender van R1 miljard bekom het. Koko en sy stiefdogter besit aandele in die maatskappy en die tender is toegeken deur ʼn afdeling waarvan hy die hoof was, voor hy as waarnemende uitvoerende hoof aangestel is.

BLSA het in daardie stadium Koko se heraanstelling veroordeel.

“BLSA hou vol Koko se heraanstelling is nie goed deurdag nie, was voortydig en moes nooit plaasgevind het nie. Hierdie posisie spruit uit nuwe inligting dat hy die voorwaardes van sy skorsing oortree het,” het Themba Maseko, woordvoerder van Business Leadership South Africa (BLSA), Woensdag gesê.

Business Day het Woensdag berig Koko, wat in Augustus 2017 geskors is, het die voorwaardes van sy skorsing oortree deur gereeld Eskom-werknemers te kontak, ondanks sy skorsingsbrief wat dit duidelik stel dat kontak met Eskom-werknemers sy dissiplinêre verhoor kan benadeel.

BLSA het Anoj Singh (hoof finansiële beampte) en Prish Govender (waarnemende hoof van groepskapitaal) se bedankings vroeër vandeesweek verwelkom.

Maseko het ook gesê BLSA sal graag wil sien dat Eskom-werknemers met alle ondersoeke saamwerk, insluitend die parlementêre verhoor en die SOE-ondersoek wat Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, aangekondig het.

Hy het bygevoeg BLSA ondersteun en het volle vertroue in die nuwe raad van Eskom.

Die regering het Sondag ʼn nuwe raad van 13 lede vir Eskom aangekondig met sakeman Jabu Mabuza as die aangestelde voorsitter en Phakamani Hadebe as tussentydse uitvoerende hoof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.