Sakelui se betrokkenheid bepleit

prof-andre-duvenhage

Prof. André Duvenhage ‘n politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit. Foto: René Roux/AfriSake.

Die tydperk van 2014 tot 2019 gaan ʼn periode van fundamentele, dramatiese verandering wees waarin Suid-Afrika op ʼn manier herdefinieer gaan word. Die groot vraag is watter rol kan en gaan plaaslike sakelui in dié verband speel?

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, het Vrydag tydens AfriSake se laaste sakeontbyt vir 2016 in Centurion by sakemanne en -vroue gepleit om hulle nie aan hierdie proses te onttrek nie. Duvenhage en Russell Lamberti, hoofstrateeg van ETM Analtyics, ʼn makro-ekonomies en finansiële markontleder in Johannesburg, het sakelui toegespreek oor die Suid-Afrikaanse ekonomie en politiek se bedreigings en geleenthede in 2017.

Duvenhage het die Afrikaanse sakelui gevra om te bou aan hulle selftrots. “Die groot politieke geveg lê voor in 2019. Waaroor ek sekerheid het, is dat indien sakelui nie sou betrokke raak nie, sal die uitkoms beslis ʼn verlies wees. Dit is kernbelangrik dat almal van ons uit ons onderskeie omgewings konstruktief en proaktief inspeel op hierdie proses. Om ʼn toeskouer te bly te midde van die hedendaagse politiek is eenvoudig nie ʼn opsie nie.”

russell-lamberti

Russell Lamberti, hoofstrateeg van ETM Analtyics, ʼn makro-ekonomies en finansiële markontleder in Johannesburg. Foto: René Roux/AfriSake.

Lamberti meen die ANC het sy nasionaal-demokratiese revolusie- (NDR) raamwerk sedert 1996 verskerp. Die ekonomiese opbloei wat Suid-Afrika tussen 1995 en 2005 ervaar het kan eerder aan ʼn sterk wêreldekonomie toegeskryf word as die sukses van dié raamwerk. “Die NDR se mislukking is daarna ontbloot deur ʼn verswakte wêreldekonomie. Dit is ook vererger deur die Zuma-regering se sosialisties-Marxistiese staatsideologie en die kultuur van korrupsie en staatskaping,” het Lamberti gesê. Hy meen Suid-Afrika se negatiewe ekonomiese siklus, te midde van politieke wispelturigheid, kan maklik tot in die 2020’s voortgesit word.

Lamberti glo egter die positiewe sy hiervan is juis die mislukking van die staat. “Suid-Afrika se ekonomiese probleme vra ʼn veelledige oplossing, maar ons het die bloudruk vir Suid-Afrika se sukses: Dit lê in ons eie land se eie geskiedenis. Kyk maar net wat het met ons ekonomie gebeur in die 1880’s en 1900’s ná die ontdekking van goud aan die rand. Ons moet die lesse wat die verlede bied erken en weer leer hoe om die ekonomie te laat groei buite ʼn goeie kommoditeitsiklus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ou Vlakvark ·

En wat het geword van die South African Excellence Foundation waarvan wyle oud-staatspresident Nelson Mandela ‘n erelid was? En wat het geword van Batho Phele?

Dood soos twee dodo’s!

Vir enige land om ‘n wenland te wees moet daar leierskap en ‘n kultuur van werksdissipline wees. Duitsland is ‘n rolmodel. Begin by die ouerhuise en laerskole. Miskien oor 100 jaar mag ons dalk op die kaart wees.

Intussen speel ons politiek en idealogie en geniet die werkloosheid en armoede.

humors ·

Vlakvark jy is nogal reg, maar dan sal die harde baas chinas wees en die werkloosheid baie minder want baie sal weer op hul plek terug in Afrika wees en die aanwaskoers vir die agterbly sal wetlik verplig tot op nul wees en daar sal nogal heelwat Afrikaanse vanne regoor die wereld wees.

Belasting ·

Belasting terughou, of oorplaas in n goed bestuurde finds sodat dit nie wanbestee word nie. Of beter, selfbeskikking.

Johann Marx ·

Hierdie ekonomie is op sy sterwensbed. Hopeloos teveel mense kry hopeloos teveel geld vir hopeloos te min werk……Probeer DIT nou omkeer!! Dan sal jy anargie sien soos nog nooit vantevore nie. Wat ons nou beleef MOES NOOIT gebeur het nie….maar dit het, want ons het ‘n regering met GEEN verantwoordelikheid teenoor die toekoms nie. Alles gaan net oor onmiddelike bevrediging van die sinne. Die lokomotief van die soustrein is alreeds oor die afgrond….hy gaan in 2019 die grond tref.

John ·

‘n Eenpartystaat is steeds ‘n ANC-droom. Die president is juis oppad na sy mentor in Zimbabwe. Al wat ons nog moed gegee het was ons regstelsel, maar dit word nou ernstig bedreig. Die ‘leuen’ is die wagwoord van regeringsamptenare onder beleg van Oosterlinge wat ten alle koste nie hul ‘goudmyne’ sal prysgee nie. Sakelui op ‘n sagte pienk wolkie wat bly glo Suid-Afrika sal nog losskeur van die moederkontinent en aanhaak by ‘n Westerse Utopia, gaan uitreen op ons dorre vlaktes vol duwweltjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.