Sakeman Bertie Lubner oorlede

Bertie Lubner (Foto: AfrikaTikkun.org)

Bertie Lubner (Foto: AfrikaTikkun.org)

Rob Davies, die minister van handel en nywerheid, het Dinsdag hulde gebring aan die Suid-Afrikaanse entrepreneur en sakeman Bertie Lubner.

Lubner, medestigter van die PG Group en stigter van niewinsgewendeorganisasies soos die Smile Foundation en Afrika Tikkun, is Maandag ná ʼn lang siekbed oorlede. Hy was 85 jaar oud. Lubner was ook die stigter van die Vervaardigingsirkel wat onlangs saam met die departement van handel en nywerheid gewerk het om die vervaardigingsbedryf te ondersteun.

Lubner word oorleef deur sy vrou, Hilary en vier kinders, Marc, Tony, Susan en Richard. Hy is een dag voor sy 61 huweliksherdenking oorlede.

Hy was ook ʼn groot vriend van oudpresident Nelson Mandela.

Davies het gesê hy het met groot hartseer van Lubner se afsterwe verneem. “Bertie het ʼn beduidende rol in die industrialisasie van die land gespeel deur die talle maatskappye wat hy op die been gebring en uitmuntend bestuur het,” het hy bygevoeg. “Hy was ook ʼn groot voorstander vir menseregte en ʼn aktiewe filantroop.”

Volgens Davies was Lubner ook ʼn kampvegter vir die rol wat vervaardiging moet speel in ekonomiese ontwikkeling, werkskepping en die stryd teen ongelykheid en armoede. “Sy talle bydraes in hierdie veld sal gemis word. Namens die departement van handel en nywerheid betoon ek my medelye aan sy familie en talle vriende en vennote.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.