Sakeman doodgeskiet ure ná hy van pa afskeid neem

Arnold Watkins (Foto: Facebook)

’n Sakeman van Mandeni in KwaZulu-Natal is Maandagaand in sy huis doodgeskiet. Dít volg ure nadat hy met die ondersteuning van vriende sy ontslape pa se as gestrooi het.

Arnold Watkins, die 57-jarige eienaar van Skyton Recycling in Mandeni, is Maandag omstreeks 22:00 deur rowers oorval en in sy maag geskiet.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het bevestig Watkins is dood in sy huis aangetref. IOL berig André van Rooyen, ʼn goeie vriend van Watkins, vermoed Watkins is met sy eie vuurwapen geskiet ná ʼn struweling met die rowers. Gwala sê dié inligting kan egter nie in dié stadium bevestig word nie.

Van Rooyen het aan IOL gesê dat Watkins vroeër die dag sy pa se as aan die oewer van die Tugela-rivier gestrooi het waarna hy drankies saam sy vriende gaan drink het. Watkins se pa is sowat ’n jaar gelede dood, maar Maandag was juis gepas vir dié afskeid aangesien dit sy pa se verjaardag sou wees.

Volgens Van Rooyen het Watkins Maandag om 21:30 nog boodskappe vir sy vriende gestuur om hulle te bedank vir hul ondersteuning vroeër die dag. Dit was egter die laaste wat iemand van hom gehoor het.

Kathleen Naidoo, ʼn DA-raadslid in Mandeni, het Woensdag in ʼn verklaring haar medelye teenoor Watkins se naasbestaandes uitgespreek. “Die hoë misdaadsyfer in Mandeni is ʼn weerspieëling van die situasie in die hele land. Suid-Afrika is ʼn gevaarlike plek onder die ANC se bewind en ons as landsburgers is daagliks in gevaar. Gemeenskappe leef in vrees,” sê Naidoo.

Volgens Naidoo was Watkins jare lank ’n inwoner van Mandeni en altyd bereid om ʼn helpende hand na sy gemeenskap uit te reik. Dié party beplan om Watkins se naasbestaandes eersdaags te besoek.

Gwala het bevestig ʼn saak van moord word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mens ·

Nog ‘n helpende hand MINDER aan die gemeenskap wat hom DOODGEMAAK het .. RUS IN VREDE mens, dankie vir wat jy vir jou medemens probeer doen het, net jammer hulle het dit nie waardeer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.