
Dave Chamberlain en Theodore Pistorius draf en stap by Loftus om geld vir atlete in te samel. (Foto: AfriForum)
’n Pretoriase sakeman het meer as 2 000 km om Loftus Versfeld gehardloop om geld in te samel om ’n Suid-Afrikaanse atleet te help om aan die Olimpiese Spele deel te neem.
Dave Chamberlain het Maandag sy maand lange projek voltooi deur in 29 dae 2 173 km af te lê. Sodoende het hy R21 730 ingesamel wat Maandag aan Esti Olivier, Suid-Afrikaanse vrouesnelroeikampioen, oorhandig is om haar te help met haar voorbereiding vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele.
AfriForum Sport het die projek ondersteun deur R10 van die organisasie se Forum vir Atlete-fonds te skenk vir elke kilometer wat Chamberlain gehardloop het.
“Dít was nie net ’n persoonlike uitdaging vir Chamberlain nie, maar ook ’n beroep op die privaat sektor en mense om die land se sportgemeenskap te ondersteun,” sê Ronald Peters, bestuurder van sport by AfriForum.
Chamberlain was egter nie alleen in sy uitdaging nie. Theodor Pistorius, wat twee jaar gelede 28 m in 4 minute en 30 sekondes kon loop, het elke dag gestap terwyl Chamberlain gehardloop het. Pistorius het altesaam 60 km in dié tydperk afgelê.
Maroela Media het vroeër berig dat slegs atlete wat oor die nodige geld – dikwels derduisende rande – beskik aan die Olimpiese Spele kan deelneem.
“Dit is geen geheim dat Suid-Afrikaanse atlete dikwels sukkel om die nodige hulpbronne en ondersteuning van amptelike sportliggame soos Atletiek Suid-Afrika (ASA) en die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) te verkry nie. Chamberlain het die fondsinsamelings- en bewusmakingsveldtog aangepak sodat hierdie gaping oorbrug kan word en Suid-Afrikaanse atlete in staat kan wees om hul volle potensiaal te bereik – veral in aanloop tot die voorbereiding vir die Olimpiese Spele,” het Peters gesê.
Die 2024- Olimpiese Spele vind van Julie tot Augustus in Parys plaas.
“Voorbereiding vir die Olimpiese Spele is veeleisend en duur. Baie atlete moet boonop ook dikwels deeltyds werk terwyl hulle voorberei, wat kan veroorsaak dat die atleet nie sy volle potensiaal bereik nie,” sê Peters. “Chamberlain wou dus met hierdie projek voldoende geld insamel om hierdie atlete in staat te stel om uitsluitlik op hul voorbereiding te fokus.”
Niel du Plessis, uitvoerende hoof van die Braven Performance Lab, sê Chamberlain én Pistorius se deursettingsvermoë is nie net inspirerend nie, maar dien ook as getuienis dat ’n mens se fisieke grense baie verder uitgedaag kan word as wat jy besef.
Peters sê AfriForum Sport wil die privaat sektor, ondernemings en mense aanmoedig om Suid-Afrikaanse atlete te ondersteun. “Chamberlain se inisiatief is ’n duidelike bewys dat daar nie meer op regeringsverwante liggame gewag kan word om voldoende ondersteuning aan atlete te bied nie. Die privaat sektor en ander landsburgers moet toetree om die toekoms van Suid-Afrikaanse sport daar te stel.
“Hierdie projek bied nie net onmiddellike finansiële ondersteuning nie, maar stuur ook ’n boodskap uit dat die Suid-Afrikaanse sportgemeenskap verenig is in sy vasberadenheid om talent te koester, geleenthede te bied en ’n blink toekoms vir sy atlete te skep.”
Vir meer inligting oor hierdie projek en om betrokke te raak, besoek AfriForum Sport se webblad. Saam kan ons verseker dat Suid-Afrikaanse atlete die nodige hulpbronne verkry om internasionaal uit te blink en hul land trots te maak in die 2024- Olimpiese Spele en daarna.
*Peters is die bestuurder van sport by AfriForum.
As die regering minder beaptes stuur wat nie daar hoort, sal daar seker bietjie meer geld wees. Verder, as die atlete nie deur die sportfederasie gehelp word nie en meeste kostes self moet dra, neem dat ook onder ‘n ander vlag deel. Die regering is te geneig om ander se prestasies vir hulself toe te eien.