Sakeman het glo Mpuma-onderwysdepartement bedrieg

(Foto: Maroela Media)

Milton Mbongeni Lushaba (56) is Vrydagoggend in hegtenis geneem oor beweerde vervalste fakture wat hy 14 jaar gelede by die departement van onderwys in Mpumalanga ingedien het vir skoliervervoer.

Lushaba het kort ná sy inhegtenisneming in die Ermelo-landdroshof verskyn, sê kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

“Die ondersoek het in April 2015 begin toe ʼn saak aanhangig gemaak is. Die Valke se ondersoek het onthul dat Lushaba tussen September en Oktober 2007 as ʼn vervoerdiensteverskaffer fakture ingedien het vir dienste wat nooit gelewer is nie. Trouens, in sommige gevalle het hy eise ingedien vir die periode toe die skole gesluit was.”

Die departement het verliese van sowat R280 000 gely.

Die hof het Lushaba vrygelaat op borgtog van R10 000. Hy moet na verwagting op 12 November weer in die Middelburgse handelsmisdaadhof verskyn.

In ʼn afsonderlike en onverwante saak is die 34-jarige Siboniso Isaac Manyisa ʼn boete van R15 000 of drie jaar tronkstraf opgelê met ʼn verdere agt jaar tronkstraf wat vir ʼn periode van vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie in dié periode vir bedrog of diefstal skuldig bevind word nie.

Manyisa het by ʼn FNB in Ermelo gewerk toe hy in April 2019 ʼn bedrag van R10 miljoen uit ʼn kliënt se rekening oorgeplaas het. “Die oorplasing is dadelik deur die bank gestop omdat normale prosedures nie gevolg is nie. Die kliënt is gekontak en hy het bevestig dat hy nooit só oorplasing goedgekeur het nie. Die Valka het Manyisa gevolglik in hegtenis geneem en hy is skuldig bevind en gevonnis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

Nog ‘n klein vissie en jare na die misdaad gepleeg is. Wanneer word die groot visse aangekeer?

Yvonne ·

Die wiel draai so stadig…die geld is lankal uitgegee …..nou kom hulle weg met armlastige klagte….pff

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.